Die burgerregteorganisasie AfriForum het aangebied om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) te help met veiligheidsopleiding ná ’n reeks inbrake en wapendiefstal by basisse in Gauteng.
Volgens AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, is dit ’n groot risiko vir nasionale stabiliteit dat weermagbasisse herhaaldelik deur sindikate geteiken word.
Broodryk sê dat dit onaanvaarbaar is dat buurtwagte beter sekuriteit as strategiese militêre punte toepas.
“Dit is daarom kommerwekkend dat gemeenskapsveiligheidstrukture en buurtwagte toenemend sekuriteitsmaatreëls toepas wat meer effektief blyk te wees as dié wat tans sekere strategiese militêre fasiliteite beskerm,” sê Broodryk.
Die burgerregteorganisasie sê dat ’n volledige ondersoek van stapel gestuur moet word na die skynbare betrokkenheid van sindikate en beweerde interne samespanning by hierdie voorvalle.
“As misdadigers op verskeie geleenthede militêre persele kan binnedring, kommunikasiekabels oor etlike nagte sny en later terugkeer om die infrastruktuur te verwyder sonder om onderskep te word, moet ernstige vrae gevra word oor sekuriteit, interne beheermaatreëls en risikobestuursprosesse.”