Luister nou

Konflik in Afrika dreig om hele streke te destabiliseer

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 29 Julie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Die Verenigde Nasies (VN) het verlede week gewaarsku dat die konflik in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) besig is om in ’n groter streekskonflik te ontaard nadat dit aan die lig gekom het dat tussen 3 000 en 4 000 soldate uit Rwanda saam met die M23-rebelle in die konflik betrokke is. Die DRK beskuldig Rwanda en Uganda daarvan dat hulle saam met die M23-rebelle in die ooste van die DRK werk om die gebied te destabiliseer.

Die konflik in die ooste van die DRK het in 1996, slegs twee jaar ná die volksmoord in Rwanda, ontstaan. Oor die afgelope 28 jaar is ses miljoen mense in die voortslepende konflik dood, wat dit een die bloedigste oorlogsituasies sedert die Tweede Wêreldoorlog maak.

In Oos-Afrika gaan Soedan reeds vir 15 maande gebuk onder ’n bloedige burgeroorlog met tien miljoen mense wat uit hulle huise moes vlug. Dit het die grootste vlugtelingskrisis sedert die Siriese burgeroorlog ter wêreld veroorsaak.

Die Amerikaanse ambassadeur by die VN, Linda Thomas-Greenfield, het verlede week gesê dat die oorlog in Soedan dreig om ook ’n hele streek te destabiliseer. Verlede week het die berugte paramilitêre groep, die Rapid Support Forces wat in ’n stryd om territoriale beheer teen die Soedannese weermag gewikkel is, die dorp Jebel Moya aangeval. Byna die hele dorp is afgebrand en 57 000 mense moes uit hulle huise vlug. Presies hoeveel mense dood is, weet niemand nie.

Die afgelope paar maande het die Rapid Support Forces meer as 100 dorpe in Darfoer, in die weste van Soedan, heeltemal afgebrand. In een geval is meer as 1 000 mense voor die voet doodgemaak. Die Rapid Support Forces, ’n Islamitiese groep wat steun van Arabiese lande geniet, fokus veral op dele van Soedan waar die meerderheid burgers swart Christen-Afrikane is. Dit skep ’n gevaarlike etniese skeidslyn in die konflik wat uiteindelik buurlande en buitelandse magte by die konflik kan betrek.

Terwyl tien miljoen mense uit hulle huise moes vlug, baie van hulle na arm buurlande met min infrastruktuur om vlugtelinge te help, bestaan daar geen geloofwaardige data oor hoeveel mense reeds in die oorlog in Soedan dood is nie. Sommige beramings skat dit op soveel as 50 000 sterftes. Twintig jaar gelede is meer as ‘n halfmiljoen mense in dieselfde gebied in ‘n volksmoord dood.  

Intussen het Burkina Faso, Mali en Niger se militêre regerings twee weke gelede aangekondig dat hulle volledig uit ECOWAS, die ekonomiese samewerkingsorganisasie van Wes-Afrikalande, gaan onttrek. Suksesvolle militêre staatsgrepe is die afgelope drie jaar in dié drie lande uitgevoer. Sedertdien is al drie lande egter ’n teelaarde vir terreurgroepe. Die leiers van meer stabiele Wes-Afrikalande het onlangs gewaarsku dat die situasie in Burkina Faso, Mali en Niger tot ’n totale destabilisering van die groter Sahel-streek kan lei.

Konflik en oorloë is niks nuut op die Afrika-kontinent nie. Dit is egter duidelik dat die veiligheidsituasie in verskeie streke van Afrika vinnig besig is om te versleg. Terwyl die wêreld steeds op oorloë in Oekraïne en die Midde-Ooste gefokus is, sterf duisende mense daagliks in konflik in Afrika wat die potensiaal het om oor die volgende paar jaar reuseprobleme te veroorsaak en groot streke op die kontinent heeltemal te destabiliseer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Lynnwood padwerke - The Citizen

Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande

Guptas

Gupta-broers steeds gesoek

Cyril Ramaphosa, South Africa's president, at the opening of the South African Reserve Bank head office, after renovations, and museum in Pretoria, South Africa, on Friday, June 19, 2026. Traders scaled back bets for a South African rate hike next month. Photographer: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images

Ramaphosa: Bewerings oor ‘wit volksmoord’ benadeel ekonomie

Ad hoc - IOL

Ad hoc-komitee finaliseer sy verslag

Fotokrediet: Groundup

SASSA funksioneer met net 44%

Ander Nuus Artikels

Israelse vlug - France 24
Israelse passasiers het ‘n noue ontkoming tydens vlug
Fotokrediet: Daily Maverick
Diplomatieke stappe teen Amerikaanse ambassadeur
plaasaanvalle - Maroela Media
Vryemarkstigting: Risiko vir moorde is groter vir boere
Lynnwood padwerke - The Citizen
Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande
Guptas
Gupta-broers steeds gesoek

Luister nou