Luister nou

Willie Spies: Alle partye is kleiner partye

Deur James Kemp

Sewentien jaar nadat hy die politiek vaarwel geroep het, pryk Willie Spies se gesig op verkiesingsplakkate in Pretoria. En dit nogal as burgemeesterskandidaat van die VF Plus – dieselfde party wat hy destyds verlaat het.

In 1855 in Lynnwood vertel hy dat dié restaurant, wie se naam verwys na die jaartal waarin Pretoria gestig is, vir hom kosbaar is.

“Pretoria as plek, Pretoria as naam is vir my kosbaar. Dit sê geweldig baie. Pretoria is nie net die hoofstad van die land nie, dit is ook die Afrikaner se hoofstad.”

Spies het self teen die naamsverandering van die stad gelitigeer en in 2007 ’n interdik in die Hooggeregshof verkry wat die Tshwane-metro verbied het om naamborde in die stad te vervang.

“Dit is ’n bewys van wat jy kan regkry as jy jou penne inslaan en sê ‘hier staan ons en ons gaan nie uitgevee word nie.’ Daardie boodskap moet ons ook deel van die politieke diskoers maak.

Spies sê sy terugkeer na die politiek, en spesifiek die VF Plus, was vir hom ’n tuiskoms. ’n Ervaring wat hy vergelyk met die 40-jaarreünie van sy matriekgroep van die Hoërskool Oos-Moot ’n ruk gelede.

“Jy sien skielik mense wat jy in matriek laas gesien en jy sit gesprekke voort wat jy 40 jaar gelede gevoer het. Jy ken mekaar jare en jy is terug en jy is tuis.”

Hy sê egter dat dit vir hom goed was om ’n ruk lank uit die politiek te wees en dat dit hom in staat gestel het om deel van die burgerlike samelewing te word.

“Dit was vir my ’n geweldige leerskool. Ek het so baie geleer van wat moontlik is binne die burgerlike samelewing. Maar ek het ook deeglik bewus geraak van die beperkings van die burgerlike samelewing alleen.”

Hy vertel dat die burgerlike samelewing nog nie werklik bestaan het toe hy die politiek in 2009 verlaat het nie.

“Die omskakeling van die Mynwerkersunie na Solidariteit was maar ’n paar jaar oud. AfriForum as ’n organisasie was toe maar drie jaar oud, met ’n ledetal van ongeveer 5000. En die Afrikaner- burgerlike samelewing was nog ’n embrio. In die 17 jaar wat intussen verloop het, het die Afrikaner burgerlike samelewing iets werklik geword. Die Solidariteit Beweging het ’n totale ledetal van digby die 600 000. Mense maak elke dag ’n bydrae om die Afrikaner- burgerlike samelewing sterker te maak.  En dan skielik raak die politiek en die partypolitiek en toegang tot staatsgesag iets wat meer is as net toegang tot staatsgesag. Dit raak meer as net partypolitiek. En dit is binne hierdie konteks wat partypolitiek vir my weer aantreklik is. Want nou kan ek as ’n partypolitikus saamspan met ’n burgerlike samelewing wat sterk is.”

Die politieke landskap het ook baie verander sedert sy dae as parlementslid toe die ANC 69% van die steun op hulle kon verenig.

“Daar word baie gewag gemaak van groter partye en kleiner partye. Daar was deur die jare eintlik net een groot party en dit was die ANC. Daardie 69% het gekrimp tot 30% en op plekke selfs minder as 30% persent. Daar bestaan dus nie meer iets soos groot politieke partye in Suid-Afrika nie. Alle partye in Suid-Afrika is kleiner partye. En binne hierdie nuwe scenario is dit moontlik vir ’n party soos die VF Plus om rondom sy waardestelsel en rondom sy identiteit en rondom die gemeenskap wat vir hom belangrik is, ’n politieke magsfaktor te word.”

Spies sê ’n koalisie in die Tshwane-metro ná die komende verkiesing is ’n gegewe.

“Dit is vir my so hartseer dat daar politieke partye is wat nog veldtogte teen koalisies voer. ’n Politieke party wat ’n veldtog teen ’n koalisie voer, voer eintlik ’n veldtog teen die grondwetlike bedeling van die land wat voorsiening maak vir proporsionele verteenwoordiging.”

Hy vergelyk die Tshwane-metro met ’n sakeonderneming wat in ’n baie bevoorregte posisie is om die alleenreg te hê om vier produkte te kan lewer, naamlik vars water, betroubare elektrisiteit, goeie infrastruktuur en veiligheid.

Spies sê egter dat die metro om ’n paar redes nie tans hierdie “produkte” lewer nie; volgens hom is een van die redes ’n ondoeltreffende werksmag.

“Daar is 20 000 werknemers wat werk wanneer hoe en hulle wil. Dit is waar vir die meerderheid. Dit het ’n patroon geword dat die mense ná 09:00 in die oggend eers werk toe gaan terwyl hulle werksdag 07:00 al begin en dat hulle elke aand oortyd werk.”

Spies sê verder dat die struktuur van die werksmag ook skeefgetrek is en uit ’n rits bestuurders bestaan terwyl dit onderbeman is op grondvlak. In een van die elektrisiteitsafdelings in die metro is slegs 25% van die poste gevul.

“Die poste word geadverteer, hulle kry nie swart elektrisiëns wat aansoek doen nie. Dan hou hulle daardie poste leeg en stel eerder nog ’n swart kandidaat wat aan die transformasievereistes voldoen in die ketting van beheer aan.”

Spies sê die enkele tegniese kundiges wat daar is, is oorwerk en onderbemagtig. Hy sê verder die metro benodig ’n elektroniese aanmeldstelsel om te verseker dat hulle hul volledige werksure aan diens is en stel voor dat daar dissiplinêr opgetree moet word teen korrupte amptenare.

En dat die metropolisie, wat hom tans besig hou met die teistering van Wanatu- en Uber-bestuurders eerder moet fokus op die beveiliging van die infrastruktuur van die stad.

En wat dink hy van die steun wat die VF Plus uit swart gemeenskappe geniet?

Spies vertel dat hy tydens ’n onlangse besoek aan Mamelodi ’n toespraak daar gelewer het waar hy verwys het na die naam van dié gemeenskap en die bynaam van die destydse president van die ZAR, Paul Kruger, wat ooreenstem. En dat die toekoms vir die Afrikaner daarin lê om volhoubare vennootskappe met al die ander kultuurgemeenskappe in die land te handhaaf.

“Dit was my boodskap en dit vind aanklank in die gemeenskappe waar ons praat. Want mense in die townships smag na dieselfde goed as waarna ons smag. Hulle smag na die uitwissing van korrupsie, hulle smag na goeie dienslewering en hulle smag daarna om saam te werk met Afrikaners en te sê ons wil saam ’n pad stap.”

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-89-23-Okt-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Internasionale Perspektief nuut

Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026

Fotokrediet: BusinessTech

eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban

ekonomie - Pretoria FM

Tesourie en Reserwebank se konsepreguleringsraamwerk word gepubliseer

Polisiebeamptes

SAPD: Meer wit, bruin en Indiër-rekrute gesoek

Ander Nuus Artikels

Ernst Roets
Roets aanvaar parlement se uitdaging
Placeholder_400x230
Heksejag op Oppenheimer en Ansara
Internasionale Perspektief nuut
Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026
Fotokrediet: BusinessTech
eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban

Luister nou