Lex Libertas sê hulle is bereid om die bewerings wat deur die organisasie as deel van hulle Witkruisprojek in die VSA gemaak is voor die Parlement te stel en dit te verdedig. Dit volg nadat Supra Mahumapelo, voorsitter van die Parlement se Portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking, die afgelope week in ’n verklaring te velde getrek het teen Lex Libertas se uitvoerende direkteur, dr. Ernst Roets.
In die verklaring beskuldig Mahumapelo vir Roets daarvan dat hy ’n wit volksmoord en staatsondersteunde plaasmoorde verkondig. Hy sê verder dat Roets verkeerde inligting rakende eiendomsreg versprei en sou aanvoer dat swart ekonomiese bemagtiging lei tot rasgebaseerde diskriminasie. Mahumapelo sê verder dat indien Roets ernstig is oor gesprekvoering, die portefeuljekomitee se deur oopstaan.
Hierop sê Roets dat hulle graag die uitnodiging om voor die portefeuljekomitee te verskyn aanvaar.
“As die Parlement die bewyse wil hê, sal ons dit bring. Ons is bereid om vrae te beantwoord, ons gevolgtrekkings te verdedig en ons bewerings aan openbare ondersoek te onderwerp.”
Lex Libertas het versoek dat die portefeuljekomitee ’n formele openbare sitting reël. Die organisasie het ook voorgestel dat ander kenners wat die Witkruisprojek-konferensie in Washington, DC toegespreek het, genooi word om deel te neem, sodat die kwessies aan die hand van bewyse en argumente eerder as politieke slagspreuke ondersoek kan word.
“Die belangrikste ontwikkeling is dat die Parlement nou gesê het dat hierdie sake openlik getoets moet word. Ons stem saam. Laat die bewerings duidelik gestel word, laat die bewyse ondersoek word en laat die beste argument seëvier,” sê Roets.
Hy sê egter dat alhoewel die Parlement ’n gepaste forum vir hierdie gesprek is, dit nie die enigste legitieme forum is nie.
“Ons sal voortgaan om met instellings en beleidmakers binne Suid-Afrika én internasionaal te skakel.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-89-23-Okt-2026-1.pdf