Luister nou

Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Deur Seugnet van Zyl

Twee lede van die Universiteit van Kaapstad (UK) se raad word nou vervolg vir hulle betrokkenheid by die Witkruisprojek in Washington.

Adv. Mark Oppenheimer, president van die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseverhoudinge en uitvoerende direkteur van die Vryheid van Spraak Unie van Suid-Afrika, en David Ansara, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting, staar nou diskwalifikasie om op hierdie raad te dien en skorsing in die gesig.

Dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, ’n ideesentrum en voorspraakgroep, het Oppenheimer en Ansara genooi om as sprekers op te tree by ’n konferensie waar daar in September 3 000 wit kruise ter bewusmaking van plaasmoorde in Suid-Afrika in Washington opgerig is.

Roets beskryf die UK se optrede as ’n heksejag.

“Twee persone word geteiken, nie vir iets wat hulle by die UK gedoen het nie, maar vir die geselskap wat hulle hou en die menings wat hulle uitspreek. Dit is skuld deur assosiasie en die onderdrukking van vryheid van spraak, en dit behoort geen plek by ’n universiteit te hê nie. Die UK se redes is op leuens gegrond,” sê Roets.

Die UK se raad het bevind dat Oppenheimer en Ansara sy gedragskode oortree het. In Oppenheimer se geval het die raad aanbeveel dat hy gediskwalifiseer word om as raadslid te dien, terwyl daar voorgestel is dat Ansara vir ses maande geskors moet word.

“Lex Libertas doen ’n beroep op dié raad om hierdie eise te verwerp en die vryheid van assosiasie en spraak te handhaaf waarop sy lede geregtig is.”

Die UK het Dinsdag in ’n verklaring gesê dat sy raad klagtes wat hy sedert 15 Maart verlede jaar tot 18 Oktober vanjaar oor Oppenheimer en Ansara se gedrag ontvang het na twee afgetrede regters verwys het om onafhanklik te ondersoek, bevindings te maak oor of die gedragskode oortree is en om geskikte sanksies vir die oortredings aan te beveel. Albei regters het omvattende verslae oor hul bevindinge geskryf.

Klagtes teen Oppenheimer behels dat hy in Maart 2025 uitlatings op ’n podsending gemaak het wat glo die gedragskode vir raadslede oortree het en dat hy die Witkruisprojek se konferensie bygewoon het.

Ansara word daarvan aangekla dat hy sy steun vir Oppenheimer se uitlatings op sosiale media uitgespreek het en dat hy ook dié konferensie bygewoon het.

Ná die raad Sondag (18 Oktober) dié verslae aanvaar het, is ’n subkomitee van vyf lede aangestel om die verslae te oorweeg en te besluit oor gepaste optrede, indien enige, teen Oppenheimer en Ansara.

Elijah Moholola, woordvoerder van die UK, het gesê die universiteit sal enige nuus in die verband bekend maak soos gepas.

Oppenheimer sê hy sukkel om sin te maak van die UK se besluit.

Volgens hom probeer die universiteit al vir ’n geruime tyd om van hom ontslae te raak.

“Ek is nie bang nie en ek sal aanhou om uitgesproke te wees,” sê Oppenheimer wat ’n stoere ondersteuner van menseregte en vryheid van spraak is.

Hy sê Roets en Lex Libertas doen belangrike werk.

“Dit is ’n belangrike kwessie wat hulle met die Witkruisprojek aanraak. Die projek fokus geensins net op wit Afrikaners wat in plaasmoorde en/of- aanvalle dood is nie, maar mense van alle rasse word erken.”

Ansara sê hy glo dat die aanbeveling ’n buitensporige straf is en sy regte op vrye uitdrukking oortree.

“Die klagte het geen meriete nie. Ek is deur Roets as spreker na die Witkruisprojek se konferensie genooi en ek het in my hoedanigheid as uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting gegaan. Ek het gepraat oor bedreigings vir privaateiendomsregte met spesifieke verwysing na die Onteieningswet en die sosialistiese beleidsoriëntasie van die Suid-Afrikaanse regering.”

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-89-23-Okt-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: BusinessTech

eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban

ekonomie - Pretoria FM

Tesourie en Reserwebank se konsepreguleringsraamwerk word gepubliseer

Polisiebeamptes

SAPD: Meer wit, bruin en Indiër-rekrute gesoek

Brandstof

Godongwana kondig verligting by die pompe aan

Fotokrediet: Vecteezy

Mini-begroting onder druk: BOSA en AfriForum eis brandstofverligting

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026
Fotokrediet: BusinessTech
eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban
ekonomie - Pretoria FM
Tesourie en Reserwebank se konsepreguleringsraamwerk word gepubliseer
Polisiebeamptes
SAPD: Meer wit, bruin en Indiër-rekrute gesoek

Luister nou