Die nuut verkose leier van die DA, Geordin Hill-Lewis, sê onder sy leierskap sal die DA elke dag veg om die land te vorm in die rigting van ’n regering wat werklik sy waardes weerspieël.
Hill-Lewis het na sy aanwysing as DA-leier gesê dat moedertaalonderrig, die beskerming van eiendomsreg en aanstellings op meriete die waardes is wat die DA onder sy leierskap sal bevorder.
Hy het verwys na hoe die debatte tussen die voormalige DA-leier, Tony Leon, en die voormalige president, Thabo Mbeki hom destyds toe hy op skool was, beïndruk het. Later, steeds as skolier, het hy ’n DA-saamtrek in Bonteheuwel bygewoon waar hy Helen Zille ontmoet het. Dit was sy eerste ontmoeting met ’n parlementslid en sou ’n rigtinggewende oomblik wees.
Op Universiteit was hy ’n stigterslid van die DA se studente beweging, DASO. Hill-Lewis vertel dat dié organisasie nie aanvanklik sukses behaal het nie en dat hy daar waardevolle lesse oor terugslae en nederlae geleer het. ’n Jaar later sou DASO wel die studenteraadsverkiesing wen.
In 2007 was hy in die einste saal by die Gallagher Estate-konferensiesentrum in Midrand toe Helen Zille as die leier van die DA aangewys is.
Hill-Lewis sê dat die DA nie ’n “praatparty” is nie maar ’n party wat dinge gedoen kry.
“’n Regering wat werk kan ’n land bou wat werk.”
Hill-Lewis sê verder dat die DA by die miljoene Suid-Afrikaners wat nog nie DA stem nie moet uitkom.
“Ons moet luister. Ons moenie met die antwoord kom voor ons nog nie eers die vraag gehoor het nie. Ons moet meer teenwoordig in ons gemeenskappe wees. En ek bedoel werklik teenwoordig, skouer aan skouer met ons mense en help om hulle probleme op te los.”
Hill-Lewis sê die opdrag wat hy nou van die DA-afgevaardigdes ontvang het is om die party in die grootste in Suid-Afrika te omskep en na ’n nuwe nasionale regering te lei.
“Op die nasionale verhoog, vir die eerste keer in ons geskiedenis, help die DA-leiers om die rigting van die nasionale regering te vorm en hulle maak ’n positiewe verskil.”
Hy sê die DA moet verder ook ’n sterk en beginselvaste vennoot in die nasionale regering wees.
“Ons weet die regering van nasionale eenheid is ingewikkeld en onvoorspelbaar, maar ons moet nooit vergeet waarom dit bestaan nie. Dit bestaan omdat Suid-Afrikaners verval verwerp het. Dit bestaan want die mense kies spoedige regstelling, nie wanorde nie. ”
Hill-Lewis sê dat die DA nou van die opposisieparty wat hulle oor jare opgebou het verder moet groei in die komende plaaslike regeringsverkiesing.
“Kom ons bou ’n land wat werk,” sluit Hill-Lewis af.