Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan sê hy is nie bereid om deur parlementslede ondervra te word oor aantygings wat volgens hom deur misdadigers teen hom gemaak is nie.
O’Sullivan verskyn vandag weer voor die parlement se ad hoc-komitee, waar hy vrae sal moet beantwoord oor bewerings deur vorige getuies, onder meer KwaZulu-Natal se polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi en die geskorste minister van polisie, Senzo Mchunu se stafhoof, Cedric Nkabinde.
O’Sullivan sal verdere getuienis lewer oor sy eie bewerings van polisiekorrupsie wat senior beamptes impliseer.
Hy dreig egter om sy samewerking te onttrek indien hy onder kruisverhoor geplaas word.