Die DA het die politieke ontleder, prof. Theo Venter, as hul burgemeesterskandidaat vir die JB Marks-munisipaliteit aangewys.
Die munisipaliteit bedien gebiede soos Baillie Park, Grimbeekpark, Van der Hoff Park, Dassierand en Miederpark.
Die leier van die DA, John Steenhuisen, het prof. Venter se kandidaatskap vandag in Potchefstroom aangekondig. Hy sê dié besluit is nie ’n loopbaanskuif nie, maar ’n laaste geleentheid om sy gemeenskap te dien.
Prof. Venter meen sy besluit om as kandidaat te staan is ’n groot aanpassing, maar meen hy het die nodige ervaring om ’n positiewe rol om te speel.
Hy sê hy weet vanuit die staanspoor dat daar baie pogings vanuit die bestaande ANC-leierskap is om dit te ontwrig, maar hy meen dit is gesonde politieke kompetisie.
Hy beskou die DA as die land se mees inklusiewe party en die ideale platform vir doeltreffende plaaslike bestuur.
Prof. Venter het die afgelope 40 jaar agting in politieke kringe verwerf en word gereeld deur Pretoria FM genader vir ontleding van politieke gebeure, nie net op plaaslike en nasionale front nie, maar ook oor internasionale gebeure.