Marelize Maré
Verskeie wêreldleiers het reeds in Suid-Afrika aangekom vir die naweek se G20-leiersberaad, maar die eerste minister van Indië, Narendra Modi, word eers vandag verwag.
Die leiers wat reeds in Johannesburg aangekom het, sluit in die Australiese eerste minister, Anthony Albanese asook die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, in.
Die leiersberaad begin amptelik môre en eindig Sondag, waartydens lede na verwagting ’n verklaring sal uitreik oor verskeie wêreldkwessies.
Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, is ook teenwoordig en sal vandag ’n mediakonferensie hou voor die beraad begin.
Die Johannesburg-metropolisie sê intussen hy verwag van vandag af verskeie beplande betogings, optogte en plakkaatbetogings.
Dit word veral in die gebied van die Nasrec-konferensiesentrum en Sandton-gebiede verwag.
Wetstoepassers sal intussen die naweek verskeie paaie sluit, bane beperk en motorkonvooie in die metro begelei.
Motoriste kan stop-en-ry-beheermaatreëls, tydelike padsluitings en vertragings op die roetes gedurende die naweek te wagte wees.
Roetes wat vir die beraad gesluit sal word, sluit in die N1-, M1- en N12-hoofweë asook verskeie strate in en om die Johannesburgse middestad.
Alternatiewe paaie wat gebruik kan word is Beyers Naudé-weg, Christiaan de Wet-weg en Ontdekkersweg in Roodepoort asook Main-weg, Cedar-weg en Witkoppen-weg in Fourways.
In Sandton, Rosebank en Parktown kan motoriste gebruik maak van Corlett-rylaan, Sandton-rylaan, 11de laan en kleiner parallele roetes na Jan Smuts-, Oxford- en Rivonia-weg.
In die suide van Johannesburg is Chris Hani-weg, Hoofrif-weg, Crown-weg, die Soweto-hoofweg, die N17, Aerodrome-weg en Adcock Ingram-weg as alternatiewe roetes uitgewys.
Die owerhede het inwoners gevra om op hoogte te bly van enige verkeersaankondigings.
Fotokrediet: AP Photo/Themba Hadebe