’n Misdaadintelligensiegedrewe operasie het gelei tot die ontdekking van kokaïen ter waarde van R20 miljoen op ‘n kleinhoewe in Midrand.
Die polisie sê die klopjag is gister uitgevoer nadat ‘n wenk oor die dwelms opgevolg is.
Die span het lede van die Gautengse Georganiseerde Misdaad-eenheid, die Johannesburgse polisie se honde-eenheid en die plaaslike Misdaadrekordsentrum ingesluit.
’n 56-jarige man is in hegtenis geneem nadat die polisie 80 kilogram se kokaïen ontdek het.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die dwelms vanuit ‘n buurland na Suid-Afrika gebring is en vir Kaapstad bestem was.