Woorde soos skibidi, delulu en tradwife – gewild onder Generasie Z en Generasie Alfa – is van die jongste toevoegings tot die aanlyn uitgawe van die Cambridge-woordeboek.
Die uitgewer, Cambridge University Press, het bevestig dat meer as 6 000 nuwe inskrywings die afgelope jaar bygevoeg is, waaronder verskeie terme wat hul oorsprong in internetkultuur het.
Die woord tradwife, ’n samesmelting van die woorde tradisionele en vrou, verwys na ’n omstrede tendens op platforms soos TikTok en Instagram waar vroue tradisionele geslagsrolle verwelkom. Die woord skibidi, wat deur die YouTube-reeks, Skibidi Toilet bekend geword het, word losweg gebruik om iets kief, sleg of betekenisloos te beskryf.
Delulu, afgelei van die Engelse woord delusional (waansinnig), beteken om in iets te glo wat nie waar is nie – dikwels omdat jy kies om dit te glo. Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, het delulu in ’n parlementsdebat gebruik wat bygedra het tot die woord se gewildheid.
Colin McIntosh, programbestuurder by die Cambridge-woordeboek, sê hulle voeg slegs terme by wat hulle glo ’n blywende impak sal hê.
Dié bywerking beklemtoon hoe aanlyn leefstyle, digitale humor en jonger geslagte se manier van kommunikeer toenemend ’n invloed op die woordeskat van die dag het.