‘n 57-jarige Chinese voortvlugtende is in Sandton in hegtenis geneem nadat hy probeer het om na Amerika uit te wyk.
Volgens die polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Amanda van Wyk is Interpol in kennis gestel van die man se teenwoordigheid in Suid-Afrika, nadat hy aansoek gedoen het vir ‘n visum om na Amerika te reis.
Dié man word in China gesoek vir klagtes van bedrog en sal moontlik binnekort uitgelewer word.
Van Wyk sê die polisie sal aanhou steun bied aan internasionale wetstoepassingsagentskappe om wêreldwye misdaadsindikate bloot te lê.
Die man het gister sy eerste verskyning in die Randburg-landdroshof gemaak.