Luister nou

16-JARIGE PRETORIANER DIE LAND SE JONGSTE GLYRYER

Deur Pretoria FM Nuusspan

Deur: Esmarie Yssel 

Brandon van der Walt is ’n 16-jarige Pretorianer wat vinnig opslae maak in die wêreld van glyry (in Engels: “drifting”) en knortjorre.

Hy het by Pretoria FM in die ateljee gekuier om te gesels oor sy loopbaan en prestasies op die resiesbaan.

Brandon staan in knortjorkringe as Lil’ Lightning bekend, en wanneer hy soos blits op die resiesbaan gly en ry, gee hy vir omstanders iets om oor te praat.

Hy het onder meer vir hom ’n plek oopgery in Span Suid-Afrika vir die 2024 OKN FIA Knortjorwêreldbeker in die Verenigde Koninkryk, en het gekwalifiseer vir die Rok Superfinaal in Italië. Hy is ook die jongste bestuurder om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse been van die Red Bull Car Park Drift.

Hy ry tans vir die Roos Kart Team wat groot dinge vir Brandon se toekoms voorspel.

Die wêreld van knortjorre en wedrenne het in Desember 2020 vir Brandon oopgegaan toe hy by ’n vriend in Namibië gaan kuier het.

“My vriend was in daardie stadium ’n professionele knortjorryer en daarom het ek so bietjie daarvan geweet, maar van daar af het die sport my belangstelling geprikkel en ek wou meer leer daaroor. Toe ek by die huis kom, het ek my ouers daarvan vertel, ek het vir lesse gegaan, my eie knortjor gekry, en toe ek aan my eerste wedren deelgeneem het, het ek geweet ek gaan hiervan my loopbaan maak,” vertel hy.

Die sport is duur om te beoefen, maar Brandon is dankbaar vir sy ouers en hoofborg, Motul, wat hom op die voorgrond in die motorsportwêreld kan plaas.

Hoewel Brandon nog te jonk is om sy rybewys te kry, kan hy reeds vir menige ’n les of twee agter die stuur gee. Hy is die jongste bestuurder op SkellyWags Drift Academy se boeke, en word deur die stigters, Mikey Skelton en André Leibbrandt, afgerig.

Brandon ontvang tuisonderrig, en daarom is sy program buigsaam genoeg sodat hy op die resiesbaan kan oefen. Maar die passie kry tuis gereeld die oorhand, want hy skuif by elke moontlike geleentheid agter die wedrensimuleerder in.

Hy erken wel dat daar heel aan die begin van sy motorsportreis hier en daar ’n oomblik was waarin hy sy asem opgehou het, maar die behoefte aan spoed en adrenalien het vinnig ingetree.

“Spoed is een ding waarvoor ek nie bang is nie. Spoed is my beste vriend, en ek soek so veel moontlik daarvan.”

Die volgende ses maande van die jaar hou vir hom nog verskeie wedrenne en drome in.

“Ek sal graag in die top drie van die nuwe kampioenskapsreeks, die FKR Shifter Series, wil wees, hoër wil gradeer in die Suid-Afrikaanse Glyrymeesterskampioenskap én in die Gouebekerkategorie wil deelneem.”

Brandon word beskou as ’n toekomstige legende in dié sport.

“Ek wil beslis eendag in Formula Drift ry, en dís waarvoor ek elke dag hard werk.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Matrieks

’n Reusegroep matrieks het dié week in Gauteng hulle eindeksamen begin skryf.

Gemini_Generated_Image_pki0jdpki0jdpki0

Groot dele van hoofstad sonder krag

Mark Oppenheimer

Ons moet vry wees om die regering te kritiseer

Cilliers Brink

Brink: Ek was nie verras toe Moya my verraai nie

Internasionale Perspektief nuut

Rubio waarsku dat Weste dalk laaste kans op oorlewing het

Ander Nuus Artikels

Lex Libertas reageer op rasgebaseerde beleid vir die huur van staatsplaasgrond
Die voorspaakgroep, Lex Libertas sê die regering se rasgebaseerde beleid vir die huur van staatsplaasgrond versterk die bewering dat minderhede in Suid-Afrika vervolg word.
Die organisasie berei ’n verslag voor en wil met die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling vergader.
Dit volg nadat departementele advertensies vir staatsplase in Mpumalanga en die Wes-Kaap bepaal het dat slegs swart, Indiër- en bruin Suid-Afrikaanse burgers kan aansoek doen.
Lex Libertas se uitvoerende direkteur, dr. Ernst Roets, sê grondbeleid moet ekonomiese groei, voedselsekerheid en landelike werkgeleenthede bevorder, terwyl gelykheid voor die reg gehandhaaf word.
Fotokrediet: Instagram
Lex Libertas reageer op rasgebaseerde beleid
Fotokrediet: The Citizen
OVK gaan kandidaatbenoemingsproses vir 32 partye heropen
Boer tot bord
Wat is sukses?
Matrieks
’n Reusegroep matrieks het dié week in Gauteng hulle eindeksamen begin skryf.
Gemini_Generated_Image_pki0jdpki0jdpki0
Groot dele van hoofstad sonder krag

Luister nou