Luister nou

Opvallende skuiwe van ’n kwynende EFF

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 13 November 2024

Deur: Louis Boshoff

’n Groep rykes wat in die naam van die armes die middelklas wil vernietig.

Dis die definisie van ’n sosialistiese party – en tot ’n groot mate ook van die EFF.

So is die EFF nog altyd goed daarmee om hul opponente te laat glo dat daar ’n massa armes bankvas agter hulle staan, terwyl hul werklike steunbasis eintlik in ryk buurte rondom prestige universiteite en privaatskole geleë is. Die politieke kommentator Richard Wilkinson het byvoorbeeld uitgewys hoe die EFF se steun in buurte soos Rondebosch en Observatory, rondom die Universiteit van Kaapstad, tot so hoog as 48% in die afgelope verkiesing was. Terwyl die party in informele nedersettings gelukkig was as hulle 10% gekry het. Die term “sjampanje-sosialiste” geld eintlik vir die meeste sosialiste.

Tog bly die EFF goed daarmee om die persepsie te skep dat hulle die party van die armes is en om dan op daardie persepsie te kapitaliseer.

In die afgelope paar maande was daar ’n uitvlug van prominente figure uit die EFF, meestal onderweg na die MK-party. Shivambu, Manyi, Mkhwebane en Mpofu se EFF-koebaai is almal sterk aanduiders dat die party heeltemal kan verbrokkel. Dit is fassinerend om te let op hoe die EFF op hierdie bedreiging gereageer het.

Op 11 Oktober word daar ’n “openbare lesing” deur Julius Malema in een van die grootste lokale op Tuks se hoofkampus aangebied. Tot niemand se verbasing nie, was daar slagspreuke soos “down with capitalism” (wat hy aflees van die teks op sy kapitalisties-gebore iPad Pro) en “down with Afrikaans” (wat hy natuurlik in die koloniale taal, Engels, lewer). Tot niemand se verbasing nie, is die dreunsang “Kill the Boer” gesing en verskeie oproepe tot rewolusie gemaak.

Die feit dat die Universiteit van Pretoria só ’n “politieke lesing” (wat niks anders as ’n EFF partysaamtrek was nie) in hul akademiese fasiliteite toegelaat het en hul boonop nie eers van die inhoud gedistansieer het nie, skreeu ten hemele. Om die hele geleentheid reg te verstaan moet ons egter verby die ontstellende, en tegelyk lagwekkende, retoriek kyk. Die subtiele boodskap is duidelik die volgende: “As ons – die party van die armes – dit kon regkry om selfs hier tussen die geleerdes en welgesteldes ’n stampvol geleentheid te organiseer, hoeveel meer steun het ons dan nie in die townships en onder die werkloses nie?”

Maar Juju se werklike beredenering was waarskynlik eerder soos volg: “Ons steun kwyn onder die armes. Laat ons terugtrek na die universiteit, waar jongmense welaf genoeg is dat hulle dit kan bekostig om radikaal te wees. Daar sal ons dit laat lyk asof alles wel is met die party van die armes.”

Tog het die armes nie eintlik ’n party in Suid-Afrika nie. Die meeste het bloot glad nie gaan stem in die afgelope verkiesing nie, terwyl ’n groot aantal eerder hul party op grond van kulturele identiteit as klas-identiteit gekies het. Dink maar aan die groot hoeveelheid Zoeloe-kiesers wat MK gestem het en die groot hoeveelheid bruin kiesers wat PA gestem het.

Vir die res van ons is die les eenvoudig: moet jou nie laat flous deur ’n lesingsaal vol radikale studente nie – die rewolusie is dood.

Louis Boshoff is Woordvoerder van AfriForum Jeug

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Mark Oppenheimer

Ons moet vry wees om die regering te kritiseer

Cilliers Brink

Brink: Ek was nie verras toe Moya my verraai nie

Internasionale Perspektief nuut

Rubio waarsku dat Weste dalk laaste kans op oorlewing het

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 16 Oktober 2026

Fotokrediet: Daily Maverick

Suliman Carrim in hegtenis geneem

Ander Nuus Artikels

Boer tot bord
Wat is sukses?
Matrieks
’n Reusegroep matrieks het dié week in Gauteng hulle eindeksamen begin skryf.
Gemini_Generated_Image_pki0jdpki0jdpki0
Groot dele van hoofstad sonder krag
Mark Oppenheimer
Ons moet vry wees om die regering te kritiseer
Cilliers Brink
Brink: Ek was nie verras toe Moya my verraai nie

Luister nou