Nuuskommentaar: 25 April 2024
Deur: Charné Mostert
In ’n optimistiese skuif het verskeie regeringsamptenare, insluitende President Cyril Ramaphosa, die Suid-Afrikaanse kragreus, Eskom, ondersteun deur te verklaar dat beurtkrag iets van die verlede sal wees. Nietemin is hierdie opmerking teenstrydig met die werklikheid en die toekoms van Eskom en beurtkrag se volkome beëindiging in Suid-Afrika.
Suid-Afrika se gebrek aan kapasiteit en ook verouderde kraginfrastruktuur is van die grootste hindernisse vir Eskom om beurtkrag reg te stel – dít vertraag ook Suid-Afrika se vermoë om na hernubare energie oor te skuif. Eskom voorspel dat dit ten minste R200 miljard oor die volgende tien jaar sou kos om die stelsel op te gradeer. Dit is geld wat die kragvoorsiener en die regering nie het nie. Dié besluit verteenwoordig ’n fundamentele skuif in Eskom se beleid, waar die behoefte aan die integrasie van die privaatsektor in die herstel van die land se energie probleem erken word. Die erkenning van die betrokkenheid van die privaatsektor beklemtoon die potensiaal vir doeltreffendheid, innovasie en belegging in energie-infrastruktuur.
Terwyl die idee om beurtkrag te beëindig troos bied aan miljoene Suid-Afrikaners wat jare lank onbestendige elektriese toevoer ervaar het, is dit steeds ’n paradoks. Die geskatte tien jaar-tydlyn dien as ’n duidelike aanduiding van die omvang van die probleem wat voorlê, wat nie teen 2024 opgelos sal word nie, soos deur regeringsleiers beweer is. Die enorme taak om die land se verouderde kraginfrastruktuur te rehabiliteer, wat dekades lank deurgeloop het onder verwaarlosing, korrupsie en wanbestuur, kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Is die doel van die BRICS-ooreenkoms nie om ’n beter lewenstandaard en lewensgehalte vir die mense van sy lidlande te bevorder nie? Waarom word die hulp dan nie deur Suid-Afrika benut om die energiekrisis te herlei en dit nuwe lewe in te blaas nie? Hulp is aangebied deur verskeie BRICS-lede, maar steeds wil Eskom vir tien jaar druk plaas op die privaatsektor vir, om die krisis op te los. Eskom se erkenning van ’n dekade lange reis na stabiliteit beklemtoon die kompleksiteit van die taak wat voorlê. Die heropbou van vertroue in Suid-Afrika se energiesektor, die aantrek van privaat belegging, en die implementering van volhoubare oplossings vereis noukeurige beplanning, onwrikbare toewyding, en volhoubare samewerking tussen belanghebbendes – wat Eskom nie nou kan waarborg nie.
Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het dit duidelik gemaak dat die onderbreking van beurtkrag nie te danke is aan die verkiesing nie, maar eerder dat Eskom ’n keerpunt bereik het. Hierdie keerpunt sal eers duidelik sigbaar wees ná die verkiesing wanneer die kragreus verantwoordelikheid vat vir sy beloftes.
Uiteindelik bied Eskom se aankondiging ’n flikkering van hoop vir ’n nasie wat moeg is van jare se kragonderbrekings. Nietemin is die pad na ’n toekoms sonder beurtkrag vol hindernisse wat nie onderskat kan word nie. Terwyl Suid-Afrika hierdie reis onderneem, moet hy standvastig bly in sy toewyding tot samewerking, innovasie en volhoubaarheid om ’n helder, meer geëlektrifiseerde toekoms vir al sy burgers te verseker. Aangesien dit Suid-Afrika se energie aksie plan op ’n verlengde tydlyn plaas, met jare se werk wat nodig is om beurtkrag finaal af te skud.