Luister nou

Hoe oud is die Wonderboom?

Deur Pretoria FM Nuusspan

Uittreksel uit Geheime van die Wonderboom (ongepubliseer) deur Riana Mulder

Aan die sonkant van die Magaliesberg, in grond ryklik gevoed deur neerlae van sand, klippe en humus, staan een van Pretoria se bekendste landmerke, die reusagtige Wonderboom.

Kenners probeer al lank om die ouderdom van die ou grote te bepaal sonder om die boom self te beskadig. In die vroeë vyftigerjare van die twintigste eeu het bosbouers skyfies uit een van die omgevalle dogterstamme gesny om só die jaarringe te probeer tel, maar die metode het nie gewerk nie.

Uit die algemene omstandighede, asook die tempo waarteen omliggende bome gegroei het, kon hulle wel raai dat dit ongeveer ’n duisend jaar oud is. Radiokoolstofdatering in 1964 gedoen deur dr. E.R. Swart van die Universiteitskollege van Salisbury, het hul skatting bevestig: Die Wonderboom was op daardie stadium reeds meer as ’n duisend jaar oud.

Dit is dan ook een van die grootste geheime van die Wonderboom: Hoe kon énige boom so lank oorleef in ’n gebied wat reeds 220 000 jaar gelede bevolk was? Argeologiese vondste het bewys dat die gebied reeds in die Steentydperk bewoon was, dat voorlopers van die San en later, vanaf ongeveer 1 800 jaar gelede, Ystertydperkvolkere soos die Tswana, Ndebele en Po hulle in die gebied rondom die boom gevestig het.

’n “Duisend jaar” is vir ons ’n moeilike begrip om te verwerk. Dit is eers wanneer ’n mens die ouderdom van die Wonderboom binne die konteks van wêreldgebeure plaas dat die enormiteit daarvan besef kan word.

Ons kan dit kortliks opsom: Die Wonderboom is ouer as Djengis Khan (1162-1227 n.C.) wat die Mongoolse aanvalle teen die antieke Soeng-dinastie in China geloods het. Dit is ouer as die ontdekkingsreisiger Marco Polo (1254-1324 n.C.) wat die Verre Ooste vir die Westerse wêreld blootgelê het, en véél ouer as Bartolomeus Dias, wat in 1487 die eerste keer die Kaap die Goeie Hoop gesien het.

Die Wonderboom se moederstam het waarskynlik reeds gestaan toe die Eerste Kruistog teen ongeveer 1096 geloods is om Islam uit die Heilige Land te gaan verjaag.

Die Westerse beskawing, wat aspekte van die Griekse, Romeinse en Germaanse beskawings bevat, het ook eers ongeveer ’n duisend jaar gelede ontstaan. In Europa was die Rooms-Katolieke Kerk destyds baie magtig, en die stryd tussen die Kerk en die konings van Europa het baie wrywing veroorsaak. Onder die feodale stelsel het sommige landhere baie vernaam geraak, en daarmee saam het legendes soos die van koning Arthur en sy Ridders van die Ronde Tafel ontstaan.

Daar is vas geglo dat die aarde plat was, en dat die see net só ver strek: As ’n mens te ver vaar, val jy dalk oor ’n afgrond in ’n poel vuur en verdwyn vir altyd!

Terwyl al hierdie woelinge in die destydse bekende wêreld aan die gang was, het ’n jong wildevyboompie sy staan gekry teen die hang van ’n berg in Donker Afrika. Juis dít is een van die “wonders” van die Wonderboom: dat enige lewende ding vir só lank kan oorleef en selfs nou nog aanhou groei en gedy!

Mulder is die redakteur van Pretoria Historia wat gelees kan word by www.pretoriahistoria.com.

Gewilde Nuus

Voorblad

AfriForum en March and March deel verskeie standpunte

Internasionale Perspektief nuut

Waarom die GOP nog in November kan wen

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 21 Augustus 2026

Polisielogo

SAPD wéér in die pekel oor omstrede bevorderings

Fotokrediet: Moneyweb

Absa neem administrasie van pensioenfonds oor

Ander Nuus Artikels

Meisies en seuns kuberafknouery
Meisies en seuns ewe betrokke by kuberafknouery
Ernst Roets
3000 kruise moet krisis onignoreerbaar maak
Tshwane-logo
Koalisies in al die metro’s verwag
Voorblad
AfriForum en March and March deel verskeie standpunte
Internasionale Perspektief nuut
Waarom die GOP nog in November kan wen

Luister nou