Die olieprys was die afgelope paar dae wisselvallig nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, gesê het dat die skietstilstand met Iran, wat hom betref, verby is. Dit volg nadat Iran aanvalle op skepe in die Straat van Hormoes uitgevoer en Amerikaanse magte aanvalle op Iranse teikens uitgevoer het.
“Ek dink dit is verby. Ek wil nie meer met hulle te doen hê nie. Hulle is skuim,” het die Amerikaanse president tydens ’n beraad van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie in Ankara, Turkye gesê. Trump het wel aangedui dat gesprekke tussen verteenwoordigers van die VSA en Iran steeds voortgaan.
Intussen neem die konflik tussen die VSA en Iran steeds toe. Die VSA het volgens berigte tot 90 teikens in Iran aangeval het. Iran sê hy het in reaksie Amerikaanse militêre basisse in Bahrein en Koeweit met missiele en hommeltuie geteiken. Trump het vroeër ook gewaarsku dat die VSA met groter mag sal terugslaan indien Iran sy aanvalle voortsit. Die skeepsverkeer deur die Straat van Hormoes het byna tot stilstand gekom, wat nuwe kommer oor internasionale handel en olievoorsiening laat ontstaan.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek-https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-74-10-Jul-2026.pdf