Pretoria FM stel vandag sy saak rakende sy herleistasies op plekke soos Greylingstad, Rustenburg, Naboomspruit en Tzaneen. Dié radiostasie beskik oor sewe herleistasies wat die uitsendings van Pretoria FM op ’n FM-frekwensie na gemeenskappe elders in die land neem. Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika meen egter dat Pretoria FM se uitsendings slegs tot een munisipale gebied beperk moet wees en het daarom ’n klagte by die Uitsaai-owerheid se Klagtekomitee aanhangig gemaak.
Willie Spies van die prokureursfirma Hurter Spies Ingelyf het die afgelope week tydens ’n onderhoud met Susan Botha gesê dat dié praktyk, om op verskillende senders uit te saai, al vir bykans 32 jaar bestaan en dat die uitsaaiwetgewing wel voorsiening maak daarvoor.
“Ons glo die uitsaaiwetgewing definieer gemeenskappe op twee maniere. Jy kry geografiese gemeenskappe wat gedefinieer word aan die hand van munisipale grense, en dan kry jy belangegemeenskappe, of soos die wet dit stel interest-based communities.”
Spies sê belangegemeenskappe is nie beperk tot een munisipaliteit nie.
“Die Afrikanergemeenskap is soos ’n dun lagie botter oor die hele land gesmeer. Orals is daar Afrikanermense. En hulle het ’n behoefte aan radio wat hulle verstaan. Hulle het ’n behoefte aan radio wat hulle taal praat. Ook hulle hartstaal praat.”
Pretoria sal vandag sy saak voor die Nakomings-en-klagtekommissie (CCC) van OKOSA stel met regter Thokozile Masipa as voorsitter. Regter Masipa sal bygestaan word deur ’n paneel wat onder meer uit OKOSA-raadslede en regskenners bestaan. OKOSA se klagtes sluit in dat dieselfde inhoud wat deur Pretoria FM uitgesaai word, presies so op die verskillende senders uitgesaai word en dat die verskillende senders nie individueel geïdentifiseer word nie.
Pretoria FM se stasiebestuurder, James Kemp, sê die stasie sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat hulle luisteraars steeds met die inhoud van hulle keuse bedien word.
“Aan die een kant beteken dit ons moet die stryd in die hof voortsit, en aan die ander kant beteken dit ons moet ons inhoud op verskillende platforms aan ons luisteraars beskikbaar stel sodat hulle na Pretoria FM kan luister.”
Pretoria FM kan ook op DStv-kanaal 887, aanlyn op www.pretoriafm.co.za en op Pretoria FM se slimfoontoepassing gehoor word. Die bygewerkte toepassing, wat ook al die uitgawes van Nuusweek bevat, kan nou vanaf enige foon se toepassingswinkel afgelaai word.
Luisteraars wat ’n bydrae wil lewer tot Pretoria FM se regsfonds kan die woord “Regsfonds” en hulle naam stuur na 066 374 6193 of ’n e-pos stuur na [email protected].