Die polisievakbond, POPCRU sê polisiebeamptes se gesondheid- en emosionele welstand is ‘n rede tot kommer.
Luidens statistiek het nagenoeg 300 polisiebeamptes in die afgelope sewe jaar hulle eie lewens geneem. POPCRU het met sommige polisiebeamptes vergader om aandag aan die probleem te skenk.
Volgens POPCRU voer beamptes aan dat hulle oorwerk is, en dat hulle nie genoeg ondersteuning kry nie. Van hierdie polisielede ly ook aan post-traumatiese stress.
Die polisievakbond se woordvoerder, Richard Mamabolo sê die polisie se ondersteuningsdienste het baie probleme. Hy meen die dienste is weens sy ligging nie vir almal bekombaar nie. Daar is glo ook ‘n probleem met pasiënt-sielkundige vertroulikheid.
Die polisie se waarnemende adjunk nasionale kommissaris vir die ondersteuningsdienste, luitenant-generaal Lineo Nkhuoa sê daar is ‘n tekort aan gesondheidswerknemers wat die hele ondersteuningseenheid kan oorsien. Volgens hom is daar egter genoeg ondersteuning vir polisiebeamptes wat voel dat hulle met iemand wil praat oor werkspanning.