’n Nuwe e-ritplatform is die afgelope week in die lewe geroep. VROOM sê in ’n mediaverklaring dat hulle vaste kommissie van 10% ver onder die 45% is wat internasionale mededingers van hulle bestuurders eis. VROOM roem ook daarop dat hulle volledige Suid-Afrikaanse aandeelhouding geniet.
Die stigter van Vroom, Thomas Hill, sê in ’n mediaverklaring, dat hulle moeg is daarvoor dat buitelandse maatskappye miljarde rand uit die ekonomie onttrek terwyl plaaslike bestuurders en passasiers die prys betaal.
“VROOM is deur Suid-Afrikaners vir Suid-Afrikaners gebou. Ons het geen oorsese aandeelhouers nie. Ons enigste prioriteit is die mense wat elke dag op ons paaie is.”
Een van VROOM se bestuurders, Thabo Mokoena, reken dat hy elke maand duisende rande aan kommissie verloor het.
“Met VROOM hou ek byna alles wat ek verdien. Dis die eerste keer dat ek voel iemand gee regtig om vir ons bestuurders.”
VROOM is tans in Gauteng beskikbaar en sal binnekort hulle dienste na die res van die land uitbrei.