Nuuskommentaar: Skoolveiligheid


Luister nou

Volgende

Nuuskommentaar: Skoolveiligheid

Deur: Alana Bailey 

Een van die belangrikste voorwaardes vir hoëgehalte onderrig, is veilige onderwysruimtes. As leerkragte of leerders onveilig voel, is die kanse gering dat hulle op hulle beste gaan presteer.

’n Skool se omgewing verander soms, met geweld wat na die terrein oorspoel. Dit skep ’n geleentheid vir ouers om saam met die personeel en breër gemeenskap maatreëls in te stel om te verseker dat die skool beveilig word. Buurtwagpatrollies kan byvoorbeeld ’n wakende oog daaroor hou – ook tydens skoolvakansies, want jaarliks word vele skole juis dan gevandaliseer of besteel. Afgesien van die finansiële skade, ondermyn dit die skoolgemeenskap se gevoel van veiligheid. Buurtwagte kan verder help om toegang tot die skool te beheer. Die plaaslike polisie- en onderwysowerhede moet natuurlik betrek word, maar hulle kapasiteit en/of gewilligheid is meestal beperk en moet aangevul word.

Heel ander uitdagings kom na vore wanneer skole se infrastruktuur verouder. Met die finansiële tekorte van die Departement van Basiese Onderrig, is dit kwessies wat nie oornag opgelos sal word tensy die gemeenskap inspring en help nie.

Derdens is daar gevare wat leerders en onderwysers self skep. In alle gemeenskappe word dwelms en wapens toenemend op skoolterreine aangetref. Die polisie voer dus soms klopjagte by skole uit. Wanneer dit plaasvind, moet beide die skoolgemeenskap en polisielede weet wat hulle magte behels. AfriForum het ’n gratis gids geskep om ouers met die nodige kennis hieroor te bemagtig.

Nog ’n probleem is fisiese en kuberboeliery deur kinders van alle ouderdomme en inkomstegroepe. Instellings wat onderwysers oplei, moet hulle bemagtig om die soort gedrag te identifiseer en beide die plegers en slagoffers te hanteer. Daar is baie instellings wat teenboelieprogramme aanbied, maar die belangrikste invloed bly dié van die ouerhuis en rolmodelle. Kinders moet met waardes, ’n gesonde selfbeeld en vaardighede bemagtig word om boeliery te kan hanteer.

Seksuele geweld teen kinders kom helaas ook toenemend voor. Skole het die verantwoordelikheid om te vereis dat enigeen wat aangestel word, geen polisie-, seksoortredersregister- of kinderbeskermingsrekord het nie. Omdat oortreders dikwels gereeld van skool verander of slagoffers te bang is om klagtes te lê, is dit ongelukkig moontlik dat rekords ontbreek en oortreders dus hulle wandade kan voortsit. Verder veroorsaak stelselgebreke dat die rekord van oortredings onvolledig is of nie aan alle betrokke owerhede voorsien word nie. Dit het byvoorbeeld onlangs aan die lig gekom dat die inligting van meer as ’n honderd sake van seksuele wangedrag wat tans landswyd ondersoek word, nog nie aan alle nasionale en provinsiale owerhede voorsien is nie. Diegene wat volgens die indiensnemingswetgewing van die Departement van Basiese Onderwys aan oortredings teen minderjariges skuldig bevind word, moet dadelik afgedank word en ’n klag moet by die polisie teen hulle gelê word, maar in die praktyk gebeur dit soms nie, om verskeie redes. Wanneer die oortreders self minderjariges is, raak dinge nog meer ingewikkeld.

Dit is dus duidelik waarom ouers ’n oop verhouding met hulle kinders moet hê sodat hulle betyds bewus kan raak van enige kwessies wat hulle skoolveiligheid bedreig. Leerders, ouers, personeel, die breër gemeenskap en onderwysowerhede moet dan nou saamwerk om oplossings daarvoor te vind, want ons kinders se toekoms hang daarvan af.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

PADWAARDIG

SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate

WapensvirSAPD_17April2025

AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

POLISIE2-1

10 000 speurders sluit by privaatsektor aan of bedank in die afgelope 9 jaar

NA Exterior

OUTA vra vir strenger regulering van voordele aan openbare ampsdraers

VAPE-1

DA nader gesondheidsdepartement oor tieners se gebruik van damptoestelle

Ander Nuus Artikels

Donald Trump
Nuuskommentaar: Die ANC se stryd teen Trump én realiteit
NWU
NWU sê hy bevind geen bewyse van sangoma-ritueel nie
ENOCH1-large
“Geen hofsaak sal BTW-verhoging keer nie”
PADWAARDIG
SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate
WapensvirSAPD_17April2025
AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

Nuuskommentaar: Skoolveiligheid


Luister nou

Volgende