23 September 2022
Die lys van aanklagte teen ‘n Pretoria-man, John Schuurman, oftewel Johnny Rockett raak nog langer nadat hy na bewering intieme foto’s van ‘n vrou aan haar vriende versprei het.
Schuurman word daarvan aangekla dat hy ‘n vrou aangerand het, maar nou word hy ook van sogenaamde wraakpornografie beskuldig.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan vir Lindrie Gouws by nadat haar foto’s versprei is en het ook vandag aanklagte by die Sinoville polisiekantoor aanhangig gemaak vir die oortreding van die Wet op Films en Publikasies, oortreding van die Wet op Kubermisdade, asook crimen injuria.
Dit kom enkele dae voordat Schuurman weer in die hof moet verskyn omdat hy glo ‘n ander vrou aangerand het.
Volgens die eenheid se kommunikasiebestuurder, Barry Bateman moet Schuurman Maandag in die Hatfield-landdroshof verskyn omdat hy na bewering sy voormalige lewensmaat, Milena Hill, aangerand het. Sy het die eenheid genader uit kommer dat haar saak nie sou voortgaan nie weens Schuurman se beweerde kontakte binne die SAPD.
In ’n ander saak waarby Schuurman betrokke was, het die eenheid Tyron Treurnich bygestaan om ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer, opsetlike saakbeskadiging en diefstal te open. Die aanranding is op beeldmateriaal vasgevang.
“Die bewerings is hoofsaaklik dat Treurnich in Augustus verlede jaar na ’n woonkompleks gelok is onder die voorwendsel om ’n kliënt se hare te sny. Nadat hy in ’n woonstel ingelaat is, is hy na ’n slaapkamer gelei. Treurnich voer aan dit was toe dat Schuurman verskyn en hom erg aangerand het en hom daarvan beskuldig dat hy van hom gesteel het.”
Die hoof van die privaatvervolgingseenheid, advokaat Gerrie Nel meen Schuurman, oftewel Johnny Rocket het vir homself ’n reputasie in die ooste van Pretoria verwerf.