Nuuskommentaar: 13 Desember 2023
Deur: Dr. Dirk Hermann
Adriaan Gore en Discovery is een van die grootste rolspelers in die mediese sektor.
Gore erken die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in sy huidige vorm is onbekostigbaar en waarskynlik onbereikbaar, en dat daar gronde is vir regsgedinge oor rasionaliteit.
Hy sê mediesefondslede gaan 31% meer belasting betaal en hulle gaan 69% minder voordele kry. Volgens Discovery is R531 miljard nodig vir die NGV.
Solidariteit se kosteanalise bevestig dat die land se begrotingstekort met R300 miljard sal vergroot indien die NGV geïmplementeer word. Belastings sal ingrypend moet styg.
Dan sê meneer Gore dat hulle dit nie aggressief gaan teenstaan of hof toe gaan storm daaroor nie.
Hulle gaan eerder konstruktief met die regering praat.
Meneer Gore, die regerende ANC is nie paaibaar nie. Dit is hulle ideologie. Ideologie neem nie die werklikheid in ag nie.
Dieselfde party wat u wil paai, het in die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies bankvas ten gunste van die NGV gestem.
Hulle ideologie is staatsentralisering. Dit is nie konstruktief praatbaar nie.
Dit is hierdie ideologie wat die openbare gesondheidsorgstelsel bykans vernietig het. Dit is hierdie ideologie wat openbare dienste in die algemeen vernietig het en ons ligte afskakel.
Dis dieselfde vernietigende ideologie wat die NGV onderlê. Wysiging van ’n enkele artikel deur mooi te praat is nie die antwoord nie. Dit is óf naïef, óf ’n selfsugtige poging om die rol van mediese fondse te red.
Die NGV-pasiënt is terminaal siek en die wysiging van sy medikasiebedeling deur ‘n sterk pynpil voor te skryf, gaan nie die pasiënt gesond maak nie.
Die NGV is nie rasioneel nie, dis onimplementeerbaar en onbekostigbaar. Die kern is verkeerd en dit kan nie reg getimmer word nie.
Dis grondwetlik onhoudbaar en is eenvoudig onwettig. Dit neem vryheid weg en maak van mense staatspionne. Mense word aan die regering en aan sentrale mediese beplanning uitgelewer. Die geskiedenis van die wêreld lê besaai met die lyke van mislukte sentrale beplanningstelsels.
Met alle respek, meneer Gore, waarom moet ander hof toe gaan om u kernbesigheid – goeie gesondheidsorg – in beskerming te neem? Waarom moet ander die moeilike gevegte veg terwyl u bloot politieke verhoudinge wil beskerm?
Daar is iewers ’n misverstand oor wat konstruktief is. Iemand wat hof toe gaan oor ’n ongrondwetlike stelsel is juis konstruktief.
Hulle tree in vir wat reg is. ’n Regering wat roekeloos mag sentraliseer is dekonstruktief en breek ons grondwetlike bedeling af. Iemand wat nie hof toe wil gaan nie, maar met klein wysigings wil paai, is ook juis nié konstruktief vir die groter samelewing nie.
Daar is ’n antwoord vir ons gesondheidsorgstelsel. Dit is presies die teenoorgestelde van wat die NGV beoog. Privaat mediese sorg en mediese fondse moet juis in staat gestel word om soveel dienste as moontlik te lewer om die druk op die openbare stelsel te verlig.
Hoe minder staat, hoe beter. Dit sal die staat eerder in staat stel om die openbare gesondheidsorg, waartoe almal toegang het, reg te ruk.
Die staat misluk reeds met die lewering van openbare gesondheidsorg; meer staat in die totale lewering van gesondheidsorg is dus nie die antwoord nie.
Discovery en kie moet ruggraat kry en opstaan vir wat reg is en nie vir wat polities korrek is nie.
Solidariteit gaan hof toe. Ons regspan werk reeds kliphard aan stukke. Ons gaan konstruktief ’n ongrondwetlike bedeling beveg. In die proses sal ons graag met die regering in gesprek tree. Praat en veg gaan dikwels saam. Paai alleen gaan nie werk nie.
Die totale gesondheidsektor (ook Discovery) moet eendragtig “néé” sê vir die regering se gesondheidsorgplanne. Ons kan oral om ons sien waarom hulle gestop moet word.