9 Desember 2024
Die vuurwapensaak teen die leier van die EFF, Julius Malema en sy voormalige lyfwag, Adriaan Snyman duur vandag in die streekhof in Oos-Londen voort, nadat dit vanoggend op ‘n interessante noot begin het.
Landdros Twanet Olivier het gedreig om vir beide Malema en Snyman lasbriewe uit te reik nadat dié twee nie om 09:00 opgedaag het nie. Die staatsaanklaer, Joel Cesar was ook nog nie by die hof nie.
Die saak spruit uit ‘n voorval, op 28 Julie 2018, toe Malema glo tydens die EFF se vyfde bestaansjaarviering ’n vuurwapen in die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane afgevuur het. ‘n Video van die voorval is wyd op sosiale media versprei.
Malema se regspan voer reeds lankal aan dat dit nie ‘n regte vuurwapen in die video was nie. Snyman word daarvan beskuldig dat hy die vuurwapen aan Malema verskaf het.
Cesar het egter net na 09:00 vanoggend opgedaag en gesê dat Snyman se vlug na Oos-Londen vertraag is en dat hy net na 11:00 by die hof sal kan wees. Cesar het ook vir Malema oor die vertraging ingelig, daarom was hy nie betyds in die hof nie.
Die saak duur voort.
Now outside the East London Magistrate Court to support our Commander In Chief (#CIC), President @Julius_S_Malema. #VivaPresidentJuliusMalema! ✊🏾 #VIVAEFF! ✊🏾
— Carl Niehaus (@niehaus_carl) December 9, 2024
A LUTA CONTINUA! ✊🏾 pic.twitter.com/Z0fXmO9THg