31 Januarie 2025
Die ma van die vermiste 7-jarige, Joshlin Smith, het vandag in die hooggeregshof in Kaapstad vir ’n voorverhoor verskyn.
Netwerk24 berig dat Kelly Smith se medebeskuldigdes, Jacquin Boeta Appollis en Steveno van Rhyn, weens ‘n administratiewe fout, nie saam met haar verskyn het nie.
Die drie word van ontvoering en mensehandel in verband met die verdwyning van Joshlin aangekla.
Sy het in Februarie verlede jaar vanuit die Middelpos-informele nedersetting by Diazville in Saldanha verdwyn. Die verhoor sal waarskynlik in Saldanha of Vredenburg plaasvind.
Die saak is intussen vir nóg ‘n voorverhoor tot 28 Februarie uitgestel.
Die staat beweer dat Smith vir Joshlin aan ’n onbekende vrou in ’n wit voertuig verkoop het.
Foto: Ewn