Luister nou

Ja Groenland, maar nie só nie …

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Donald Trump was die afgelope week presies een jaar lank (vir ’n tweede keer) president van die VSA. Tydens sy eerste termyn as president, vanaf 2017 tot begin 2021 is hy dikwels hewig gekritiseer omdat hy geen formele agtergrond in buitelandse sake gehad het toe hy die presidentskap aanvaar het nie. In 2018, tydens die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering, is Trump selfs deur die Duitse ambassadeur uitgelag toe hy Duitsland gewaarsku het oor sy toenemende afhanklikheid van Russiese gas.

Soveel as wat sommige mense ook al Trump kan verag, moet daar erken word dat hy oor verskeie geopolitieke kwessies korrek was. Sy waarskuwings aan Duitsland, en die hele Europa, oor hulle afhanklikheid van Russiese gas, die eskalasie van die konflik in die Donbas, die gevolge van massa-immigrasie, die uitfasering van kernkrag en fosielbrandstowwe, en veral die skerp afname in verdedigingsbegrotings in Europese lande sedert die einde van die Koue Oorlog, was in wese alles geldige kritiek.

Die afgelope twaalf maande was Trump reg oor Venezuela se destabilisering van Latyns-Amerika én die risiko’s van Russiese, Iranse en Chinese invloed wat deur Venezuela en Kuba in dié streek verkry is. Hy was ook reg oor wat nodig was om ’n einde aan die oorlog in Gasa te bring. Dieselfde geld oor sy standpunte oor die konflik in die ooste van die DRK, die stryd tussen Armenië en Azerbeidjan, en selfs die konflik tussen Pakistan en Indië en tussen Kambodja en Thailand.

Trump se insig oor wat nodig sou wees om ’n einde aan die bloedige oorlog in Oekraïne te bring – naamlik om met Rusland in gesprek te tree, die noodsaak van ’n Russiese invloedsfeer in Oos-Europa te erken en Rusland se rol as ’n globale supermoondheid te aanvaar – was ook in wese korrek. Ongelukkig het Trump egter hier geleer dat president Poetin nie vertrou kan word nie. Dit was ’n duur maar belangrike les, want uiteindelik het Trump daaruit nog ’n paar lesse geleer wat uiteindelik tot ʼn hernude fokus op Groenland gelei het.

Die oefening wat elkeen wat ‘n mening oor Groenland, die VSA, Navo en die wapenwedloop om die Arktiese Oseaan het, moet doen, is om ’n aardbol te vat en alle militêre basisse rondom die Arktiese Oseaan te merk en aan te dui. Tweedens moet bewegings van vlootskepe en selfs ’n militêre opbou in die gebied, op ʼn kaart uitgemerk word.

Die gevolgtrekking is dan eenvoudig: Rusland en China is die Weste – en gevolglik ook Navo – ver vooruit wat militêre dominansie in die Arktiese streek betref. Die VSA beskik oor heelwat sterk weermagbasisse, veral lugmagbasisse, in Alaska. Kanada het slegs ’n paar klein basisse in sy noordelike gebiede. Die Verenigde Koninkryk het ook ’n teenwoordigheid naby aan die Arktiese streek en so ook tot ’n uiters beperkte mate sommige Skandinawiese lande. Maar vir ’n groot deel is die afgelope drie dekades se verwaarlosing van verdedigingsbegrotings in Europa juis om die Arktiese Oseaan sigbaar.

Wanneer ʼn mens steeds na daardie aardbol kyk, moet jy die strategiese waarde van Groenland erken. Gegewe die toenemende toegang tot die Arktiese Oseaan en die militêre opbou deur Rusland en China in gebiede wat digby Navo-lidlande se kuslyne is, kan enige mens wat van bo na ’n aardbol kyk die strategiese ligging van Groenland begryp. Selfs in hierdie opsig is Donald Trump korrek: Groenland speel ‘n sleutelrol in die militêre magsbalans tussen die Weste, en Rusland en China om beheer van die Arktiese streek terwyl Europa vir die afgelope drie dekades nie hiermee sy kant gebring het nie.

Maar die afgelope paar weke maak Trump dieselfde fout wat hy met soveel ander kwessies ook al gemaak het. Reeds vroeg in 2025 het Trump, heeltemal korrek, besef dat China deur sy oorheersing van wêreldhandel en onder leiding van Xi Jinping, begin het om sy ideologie na die res van die wêreld uit te voer. China se manipulering van internasionale handel, die storting van gesubsidieerde produkte – soos motorvoertuie – en allerhande onderduimse skemas wat lande totaal afhanklik van Chinese handel en skuld maak, het bygedra tot verlede jaar se rekord 1,3 miljard dollar handelsoorskot wat China met die res van die wêreld behaal het. Amerika as netto uitvoerland veertig jaar gelede is in ’n groot mate deur handel met China in ’n netto invoerland omskep.

Maar Trump se remedie vir China, en byna elke ander land in die wêreld, was die instelling van tariewe wat tot inflasie in sy eie land bygedra het terwyl China bloot sy uitvoermarkte verskuif het. Die tariewe het geen afname in China se handelsoorskot gemaak nie, maar in die proses het Trump se tariewe bedrywe in talle lande geskaad, aanleiding gegee tot groot werksverliese en het persepsies oor Amerika uiters negatief geraak. Trump was reg oor die kwaal, maar het gif in plaas van medisyne daarvoor voorgeskryf.

Dieselfde patroon speel hom nou met Groenland af. Die oplossing is in wese eenvoudig: Navo behoort ’n vinnige en doeltreffende militêre opbou in Groenland te implementeer en natuurlik moet die VSA ’n wesenlike, selfs leidende, rol hierin speel. Maar Amerika het nie nodig om Groenland te besit nie en om tariewe op Europese lande in te stel is weereens gif in plaas van medisyne vir ’n kwaal wat wel behandel moet word. Die raamwerkooreenkoms wat Woensdagaand tussen Trump en Mark Rutte van Navo bereik is, is dus ‘n groot deurbraak. Hopelik sal Trump nou sy dreigemente teenoor Europese bondgenote staak.

Al is Trump nog net 12 maande in sy tweede termyn, lê ’n moeilike middeltermynverkiesing vir sy party voor en daarna betree hy reeds die pylvak van sy presidentskap. Sy geopolitieke aanvoeling oor kwelpunte is dikwels verfrissend maar as hy te veel vyande gaan maak kan dit totaal teenproduktief wees.

Gewilde Nuus

Fotokrediet: Groundup

SASSA funksioneer met net 44%

Padlangs

Nie almal is swemmertjies nie!

Tempo

Hoekom is advies nodig wanneer u batebeskermingsversekering koop?

Dr.-Theo-de-Jager-2

Saai: Privatiseer Onderstepoort Biologiese Produkte

Polisiebeamptes

Polisie sal nie rus tot waarheid oor moorde ontbloot is

Ander Nuus Artikels

Guptas
Gupta-broers steeds gesoek
Cyril Ramaphosa, South Africa's president, at the opening of the South African Reserve Bank head office, after renovations, and museum in Pretoria, South Africa, on Friday, June 19, 2026. Traders scaled back bets for a South African rate hike next month. Photographer: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images
Ramaphosa: Bewerings oor ‘wit volksmoord’ benadeel ekonomie
Ad hoc - IOL
Ad hoc-komitee finaliseer sy verslag
Fotokrediet: Groundup
SASSA funksioneer met net 44%
Padlangs
Nie almal is swemmertjies nie!

Luister nou