Jaco Kleynhans
Om die ANC se toenemende vernietiging van Suid-Afrika te bespreek, is iets wat wêreldleiers vir dertig jaar lank voor die kameras vermy het, maar wat agter geslote deure toenemend bespreek is. China se misbruik van internasionale vryehandel het nie net Amerikaanse vervaardigers bedreig nie, maar ook produksie op elke ander kontinent. Tog kon hierdie praktyke, in belang van vryehandel, nie brutaal ontbloot word nie.
Dat China en Rusland toenemend die Arktiese seeroete gebruik om hulle militêre invloed weswaarts uit te brei, is wel by die Navo-hoofkantoor in Brussel bespreek. Tog het niemand – veral nie vorige Amerikaanse administrasies – iets daaraan probeer doen nie. Hierby kan ook gevoeg word Venezuela se destabiliserende invloed in Latyns-Amerika, Iran se bedreiging vir vrede in die Midde-Ooste én die wesenlike bedreiging wat massa-immigrasie en die verval van identiteit en nasionale soewereiniteit vir bykans elke volk in Wes-Europa inhou.
Enige poging om ʼn bestekopname te maak van die taboes, omstrede vraagstukke en talle kwessies wat oor dekades – veral sedert die einde van die Koue Oorlog – gelate deur ʼn meerderheid van lande wêreldwyd aanvaar is, maar wat die afgelope twaalf maande deur Donald Trump na die voorgrond gebring is, is bykans onmoontlik. Trump 2.0 kan reeds ná slegs 12 maande beskryf word as een van die mees transformerende, ontwrigtende en geopolities-herskikkende Amerikaanse administrasies in die 250 jaarlange bestaan van die Verenigde State van Amerika.
Vrae oor waaroor Trump reg is, waaroor hy verkeerd is, sy persoonlike moraliteit – wat sommige kommentators graag vinnig opper – en daarmee saam vrae oor die onderliggende ideologiese raamwerk en omvattende stel politieke denke, of moontlik die afwesigheid daarvan, wat sy beleid en optrede rig of dikteer, is vraagstukke wat sinneloos is om te probeer beantwoord omdat te veel mense lankal hulle standpunte hieroor in beton gegiet het.
Die vrae wat ons egter wel moet beantwoord, twaalf maande nadat Donald Trump met ʼn skouspelagtige terugkeer na die Withuis en ʼn oortuigende verkiesingsoorwinning in November 2024 sy amp hervat het, hou verband met elk van die wesenlike geopolitieke kwessies wat vir te lank nie hanteer is nie.
ʼn Mens word herinner aan die bekende Withuis-ontmoeting tussen Trump en Angela Merkel in Julie 2018, toe die Duitse bondskanselier en destydse magtigste politieke figuur in Europa, deur hom gewaarsku is oor Duitsland se toenemende afhanklikheid van Russiese gasinvoere. Dieselfde geld vir sy talle waarskuwings aan Navo-bondgenote in Europa dat hulle te min aan verdediging spandeer, asook sy waarskuwing aan Suid-Afrika om daadwerklik teen plaasmoorde op te tree. Sy waarskuwings oor China se misbruik van internasionale vryhandel is ook welbekend.
Trump se eerste termyn vanaf 2017 tot Januarie 2021, is gekenmerk deur chaos weens die afwesigheid van ʼn goed gestruktureerde span van ervare, gedissiplineerde individue en deeglik uitgewerkte planne. Te dikwels het Trump se instink gebots met mede-Republikeine, lede van sy eie administrasie en bykans almal – van die media tot voormalige bondgenote. Tog het hy gedurig tydens sy eerste termyn die grondwerk gedoen vir die omvangryke transformasie van die VSA, maar ook vir die geopolitieke herskikking waarop hy nog altyd gehoop het.
Die tydperk van Januarie 2021 tot 19 Januarie 2025 was in die Trump-universum ʼn tyd van doelgerigte voorbereiding vir ʼn toekomstige administrasie wat Amerika – en die wêreld – in sy wortels moes skud met die oogmerke om die VSA as die wêreld se magtigste supermoondheid te herbevestig, China se groeiende globale invloed in te perk, die idee van ʼn multilaterale wêreldorde – wat aan die hand van internasionale reg gereguleer word – op te hef en die verval van die Westerse beskawing te stuit. Dit alles terwyl die VSA sy globale rol herbedink in terme van spesifieke beskawingsbondgenote, geografiese invloedsfere en ʼn omvangryke poging om deur die afdwing van vrede globale verhoudinge te herskik en Amerikaanse invloed, toegang tot hulpbronne én ekonomiese geleenthede uit te brei.
Wat die laaste punt betref, weet ʼn mens dat Trump gehoop het op ʼn vinnige einde aan die oorlog in Oekraïne ten einde Rusland weer nader aan die Weste te trek – ten koste van Chinese invloed, maar tot voordeel van die VSA en Europa. Waar Trump wel in hierdie oogmerk geslaag het, was met sy optrede in die Midde-Ooste, Latyns-Amerika en dele van Afrika waaronder die Demokratiese Republiek die Kongo.
Die afgelope twaalf maande is die program waaraan daar vier jaar lank gewerk is, en wat ʼn antwoord was op die Trump-instinkte, hoe reg of verkeerd ook al, wat in Trump se eerste termyn na vore gekom het, deur ʼn veel meer bekwame, gedissiplineerde en gemotiveerde span geïmplementeer. Die gevolg is dat feitlik elke politieke taboe in die geopolitiek oopgeskop is en dat die gevestigde post-Koue Oorlog-wêreldorde nou volledig herbedink moet word.
Die grootste les van die eerste twaalf maande van Trump se tweede termyn is dat globale selfondersoek nou meer nodig is as ooit vantevore. Hoe lank kan China nog voortgaan om lande se produksiekapasiteit wêreldwyd te vernietig deur die oorvloedige uitvoer van sy produkte teen gemanipuleerde pryse? Hoe lank nog voordat Europese lande in totale chaos verval weens massa-immigrasie en die dekadensie wat deur sekularisering en materialisme meegebring is? Hoe lank nog kan die ANC Suid-Afrika bloot vir eie gewin afbreek terwyl minderhede vervreem word en daar niks aan plaasaanvalle gedoen word nie? Die lys hou aan en aan, en in 2026 kan ons verwag dat Trump voort sal gaan om ʼn spieël voor elke land, leier, groep en selfs individu te hou. Die Amerikaansgeleide globale selfondersoek en uiteindelike herskikking sal voortgaan of leuenstoelkommentators by universiteite en die hoofstroommedia daarvan hou of nie.