James Kemp
In Die (vreemde) einde van ’n koerant (uitgegee deur Naledi) vertel die voormalige redakteur van Beeld, Barnard Beukman, die inderdaad vreemde verhaal van hoe ’n gewilde Afrikaanse dagblad sy laaste spreekwoordelike asem uitgeblaas het. Die boek vertel van ’n rits ongewone gebeure wat in aanloop tot die laaste uitgawe van Beeld afgespeel het. Daar kan selfs aangevoer word dat die gebeure in ’n groot mate bygedra het tot die uiteindelike sluiting van Beeld, Rapport en ander handelsmerke in die Media 24-stal.
Die eerste is hoe die inligting nie net die personeel van Media 24 nie maar selfs senior bestuurslede soos redakteurs se ore bereik het: in ’n berig op 13 Junie 2024 uit die pen van die gesoute mediaman, Jeremy Maggs, op Moneyweb. Selfs Media 24 se joernaliste moet daarna in hulle publikasies oor die gebeure berig met aanhalings van hulle (toe) uitvoerende hoof, Ishmet Davidson, wat hulle uit ander publikasie verkry. Baie dikwels het selfs senior redaksielede in publikasies soos Maroela Media eerste kennis geneem van wat in hulle eie maatskappy aangaan.
Die boek stel verder ondersoek in na die argument dat die maatskappy ’n ereskuld aan die Afrikaanse gemeenskap het aangesien baie van Naspers en Prosus se sukses op die koerantbedryf gebou is en dat dit ’n groot knou vir Afrikaans sal wees as koerante nie meer gedruk word nie. Peter Bruce, die voormalige Business Day-redakteur en kommentator, skryf in Sunday Times die sluiting van die koerante is “’n ernstige aanslag op die taal, moontlik meer as die BELA-wet.” Daar is egter nie ag geslaan op enige van die voorstelle wat uit die redaksie gekom het nie. Voorstelle om byvoorbeeld die Saterdaguitgawe van Beeld as die Vrydaguitgawe uit te gee of dat Beeld weekliks verskyn en dat Rapport in stedelike gebiede versprei word het op dowe ore geval.
Beukman beskryf hierdie en ander gebeure in fyn, verstaanbare besonderhede. Dit is ’n boek wat deur elke Beeld-leser gelees moet word sodat hulle kan verstaan waarom daar die een dag nog ’n lesersontbyt aangebied is en enkele dae later moes verneem dat hulle geliefde koerant gaan sneuwel. Dit is die vreemde verhaal van hoe Beeld, en ander publikasies in die maatskappy, ná 50 jaar en 15 000 uitgawes skielik tot ’n einde gekom het. Nie deur ’n besluit wat deur Beeld-belanghebbendes in die noorde van die land geneem is, waar Beeld sy lesersgemeenskap gedien het nie, maar as gevolg van ’n besluit wat in ’n raadsaal in die skadu van Tafelberg geneem is.
En terwyl die nuusredakteurs, joernaliste en uitvoerende hoofde belangrike rolspelers is, is die lesers nie bloot byspelers nie. Hulle word sentrale karakters in hierdie absurde storie.
Jy kry egter na die einde van die boek tog die indruk dat die verhaal nie heeltemal verby is nie, wanneer Beukman verwys na die Afrikaanse Mediastigting wat reeds in die lewe geroep is. Alhoewel die boek handel oor die tragiese dood van publikasies soos Beeld en Rapport laat dit die leser met ’n afwagting oor dit wat nog kan (en waarskynlik gaan) kom.
Die (vreemde) einde van ’n koerant kan hier bestel word.