Luister nou

Bela is wet – wat nou?

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 15 Januarie 2025

Deur: Alana Bailey

In Desember 2024 is die omstrede Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) by wyse van ’n proklamasie in die Staatskoerant in werking gestel. Dit het egter nie ’n einde aan die debat oor hierdie omstrede wet gemaak nie. Verskeie organisasies berei tans voor om dit teen te staan en aankondigings kan in die komende dae hieroor verwag word.

Hoe die bepalings van Bela toegepas gaan word, sal regulasies en beleide wat nog die lig moet sien, en die departement van Basiese Onderwys se vermoë om dit toe te pas, bewys, maar dit is nou reeds duidelik dat groot dele van die wet prakties onuitvoerbaar is.

In die media het die besware van organisasies soos AfriForum en Solidariteit teen die klousules wat oor skole se toelatings- en taalbeleide handel naas die drakoniese bepalings wat in die toekoms op tuisskole van toepassing gemaak mag word, die meeste aandag geniet. Afgesien hiervan, hang vraagtekens oor verskeie ander klousules.

Toe die eerste gerugte in 2024 gehoor is van onderwysposte wat weens begrotingstekorte besnoei moet word, het sommige provinsies dit ontken, maar nou begin die werklikheid deurdring dat dit landswye implikasies gaan hê. Hoe versoen ons dit met ’n wet wat voorskryf dat verpligte skoolbywoning met ’n jaar verlang word? Dit beteken die voorsiening van voldoende infrastruktuur en personeel, terwyl die onderwysbegroting nie eens in die behoeftes van die huidige opset kan voorsien nie.

Dit is twee dekades lank reeds duidelik dat die onderwysdepartement nie die vermoë het om voldoende skole te bou om die vraag te beantwoord nie. Moontlike oplossings is voller klasse, sodat bestaande lokale kan beskikbaar raak, of die skep van tydelike lokale. Groter klasse beteken minder aandag per kind op die kritieke fase wanneer die grondslag vir toekomstige taal- en wiskundevermoëns gelê moet word. Tydelike lokale het weer die geneigdheid om permanent te bly staan, tot dit letterlik uitmekaar val. Beide opsies is dus nie volhoubare oplossings nie.

Praktiese vrae, soos of kinders wat ver van skole af woon, nou van vyfjarige ouderdom af in koshuise geplaas sal moet word om Graad R by te woon, en of daar hoegenaamd fondse in provinsies is om meer veilige en betroubare vervoer aan te bied, is ook nog nie beantwoord nie.

Advies aan ouers wat oor die gevolge van Bela bekommerd is, is om voort te gaan met hulle kinders se onderrig soos wat tans die geval is. Die voorkeurkeuse moet steeds wees om uitnemende enkelmedium Afrikaanse skole te ondersteun en moedertaalonderrig te eis. Hiermee gaan organisasies soos AfriForum en Solidariteit behulpsaam wees. Ouers moet betrokke bly by hulle kinders se skole se beheerliggame en wanneer verkiesings plaasvind, hulleself beskikbaar stel om te dien, of ten minste verseker dat hulle gaan stem.

’n Fyner ontleding van die matriekuitslae van 2024 bewys weer dat Afrikaanse onderrig uitnemende resultate oplewer. Gemeenskappe moet daarom hulle onderwysers ondersteun en beskerm teen ideologiese inmenging – dit geld eweseer vir openbare en privaat skole, asook tuisonderrig.

Ons taal, kultuur en toekomstige ekonomiese oorlewing hang af van die voortbestaan van Afrikaanse onderrig en skole. Die Grondwet en geloofwaardige nasionale en internasionale organisasies en ooreenkomste bevestig dat mense die reg tot moedertaalonderrig het. Ons kan nie toelaat dat ideologiese praatjies en goedkoop magsvertoon ons moed om daarvoor standpunt in te neem, wegkalwe nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Guptas

Gupta-broers steeds gesoek

Cyril Ramaphosa, South Africa's president, at the opening of the South African Reserve Bank head office, after renovations, and museum in Pretoria, South Africa, on Friday, June 19, 2026. Traders scaled back bets for a South African rate hike next month. Photographer: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images

Ramaphosa: Bewerings oor ‘wit volksmoord’ benadeel ekonomie

Ad hoc - IOL

Ad hoc-komitee finaliseer sy verslag

Fotokrediet: Groundup

SASSA funksioneer met net 44%

Padlangs

Nie almal is swemmertjies nie!

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: Daily Maverick
Diplomatieke stappe teen Amerikaanse ambassadeur
plaasaanvalle - Maroela Media
Vryemarkstigting: Risiko vir moorde is groter vir boere
Lynnwood padwerke - The Citizen
Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande
Guptas
Gupta-broers steeds gesoek
Cyril Ramaphosa, South Africa's president, at the opening of the South African Reserve Bank head office, after renovations, and museum in Pretoria, South Africa, on Friday, June 19, 2026. Traders scaled back bets for a South African rate hike next month. Photographer: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images
Ramaphosa: Bewerings oor ‘wit volksmoord’ benadeel ekonomie

Luister nou