Luister nou

Bek-en-klouseer: Donker feestyd staar boere in die gesig

Deur Pretoria FM Nuusspan

Redaksie

Die VF Plus sê die Departement van Landbou sleep voet met wetstoepassing, terwyl al hoe meer boere sukkel om kop bo water te hou.

Die Departement van Landbou in Limpopo het bekend gemaak dat drie nuwe gevalle van bek-en-klouseer is in dié provinsie bevestig is. Die uitbreking is in die Khuvi Makonde-gebied buite Thohoyandou, in Vivo buite Louis Trichardt en by Leeupoort en Witklip in die Modimolle-Mookgophong- munisipale gebied aangemeld. Die departement sê die gevalle word deur die staatsveeartse ondersoek en bestuur.

Alle gebiede wat geraak word, is in kwarantyn geplaas.

Die VF Plus se hoofwoordvoerder oor landbou, dr Wynand Boshoff, sê die jongste uitbreking van bek-en-klouseer kan vernietigende gevolge vir veeboere inhou.

“Terwyl die ekonomie stiller raak en Suid-Afrikaners daarna uitsien om die feestyd saam met familie deur te bring, staar ’n donker feestyd veeboere in die gesig omdat bek-en-klouseer grootskaalse finansiële skade veroorsaak.”

Boshoff sê die Departement van Landbou sleep voet met wetstoepassing, wat veeboere landswyd se werksaamhede bedreig.

“Diere wat met hierdie siekte besmet is, mag net by ’n paar aangewese abattoirs geslag word, terwyl die kuddes in ’n 10 km-radius rondom die besmetting in kwarantyn geplaas word. Dit sny die betrokke boere se inkomstebron af en skep ernstige finansiële probleme.”

Boshoff sê beesboerdery is regoor die land versprei terwyl afronding hoofsaaklik by groot voerkrale plaasvind, wat binne redelike bereik van stedelike gebiede is.

“Dit beteken dat beeste oor groot afstande vervoer word, wat die verspreiding van ’n aansteeklike siekte in die hand werk. Inperking van kuddes waar die siekte voorkom, is dus belangrik in die bestryding daarvan. Die werklikheid is egter dat hierdie inperkings deur wetsgehoorsame, kommersiële boere eerbiedig word, terwyl daar bykans geen wetstoepassing is om onwettige vervoer te voorkom nie. Tydens só ’n krisis behoort padversperrings minstens by provinsiale grense te verseker dat beeste nie vanuit beperkte gebiede vervoer word nie.”

Boshoff sê egter dat sulke maatreëls tans afwesig is, met geen vooruitsig dat die Departement van Landbou dit gaan versoek- of toepas nie.

“Dié departement  se verantwoordelikheid is om te verseker dat veeboere vinnig kan vasstel of siek diere inderdaad bek-en-klouseer het en dat dié wat wil ent, dit kan doen. Tans is die wagtyd vir toetsuitslae egter twee weke of langer. Teen daardie tyd is die betrokke diere reeds weer gesond. Omliggende kuddes wat met ’n positiewe uitslag ingeperk sal word, kan tydens die wagtyd wettig vervoer word. Só kan die siekte verder versprei.”

Volgens Boshoff is dit die staat se plig om te sorg dat alle boere wat wil ent, dit kan doen maar dat Onderstepoort Biologiese Produkte weens swak bestuur nie meer in die behoefte aan voldoende entstof kan voorsien nie. Verder word die bestaande biologiese aanlegte in private besit ook nie gelisensieer nie.

“Die VF Plus dring daarop aan dat bestaande regulasies dringend toegepas word, met die klem op naspeurbaarheid van vervoerde diere, sowel as vinnige beskikbaarheid van toetsuitslae en entstowwe. Dit is binne bereik van ’n staat wat ten minste probeer.”

Die landbou-organisasie TLU SA het intussen gesê die uitbreking van bek-en-klouseer regoor die land, en veral in dele van die Vrystaat, plaas toenemende druk op plase.

Die voorsitter van die TLU SA in die Vrystaat, Bertus van der Westhuizen, sê boere binne die kwarantyngebied van tien kilometer word tot stilstand gebring omdat geen vee verskuif mag word totdat die gebied vry van die siekte verklaar is nie.

Van der Westhuizen sê TLU SA doen ’n dringende beroep op die Departement van Landbou om met ’n werkbare oplossing vorendag te kom.

Gewilde Nuus

Petrolpomp brandstof

Regering maan teen brandstof-paniekaankope

Bemarkingsoproepe

Ongewenste bemarkingsoproepe binnekort iets van die verlede

Fotokrediet: EWN

Polisie ondersoek moontlike sluipmoord op Feroz Khan se familielid

Fotokrediet: VF Plus

RDK beveel drie regters aan

Fotokrediet: Netwerk 24

SANW spandeer miljarde aan huurvlugte

Ander Nuus Artikels

Matrieks
Umalusi gereed vir matriekeindeksamen ondanks tekort aan nasieners
Fotokrediet: Instagram
Lex Libertas reageer op die jongste plaasmoord
Fotokrediet: Remitly
SA se finansiële vertroue bly stabiel
Petrolpomp brandstof
Regering maan teen brandstof-paniekaankope
Bemarkingsoproepe
Ongewenste bemarkingsoproepe binnekort iets van die verlede

Luister nou