James Kemp
Die sanger Adam Tas was die afgelope week oorstelp van dankbaarheid nadat hy met sy geliefde Betty Lue van Helsdingen verenig is. Tas het die Gibson- akoestiese kitaar in 2019 in Nashville aangeskaf terwyl hy daar was vir die verfilming van ’n episode van Byt en Buskruit.
Op 23 Augustus was Betty Lue op die agtersitplek van Tas se bakkie toe die voertuig gesteel is. Die verlies van Betty Lue het hom die swaarste getref, maar saam met die bakkie is Tas se skootrekenaar, binne-oormonitors en ’n mikrofoon ook gesteel. Die eerste keer wat die opsporingsagentskap ’n sein van die gesteelde voertuig opgetel het, was in Mosambiek.
Vir maande het hy geglo dat sy geliefde kitaar nooit weer gesien gaan word nie, tot hy op ’n dag ’n boodskap van ’n kitaarentoesias ontvang het dat sy in ’n pandjieswinkel opgemerk is.
Tas was in Hartbeespoort onderweg na Rustenburg vir ’n optrede en het net daar omgedraai. Op pad na die pandjieswinkel het hy sy vriend Mark Eybers van die Buffelsfonteingroep geskakel en gevra om solank na die winkel te gaan en te verseker dat dit kitaar nie die perseel verlaat nie.
Tas is nou in die proses om die nodige dokumentasie te voltooi sodat die Suid-Afrikaanse Polisiediens die kitaar aan hom kan terugbesorg.
Die pandjieswinkel het ook die identiteitsbesonderhede van die persoon wat die kitaar verpand het en dié behoort dus ook spoedig met die gereg te doen te kry.