13 Mei 2024
“Die Suid-Afrikaanse regering se rasgebaseerde beleide, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), is niks meer as ’n rookskerm vir klein elite-bemagtiging en kaderontplooiing nie.”
Dít volgens AfriForum, wat vanoggend ‘n konferensie oor rasgebaseerde beleid en die skade daarvan, aangebied het.
Die Vryemarkstigting se beleidshoof, Martin van Staden het tydens sy voorlegging aangevoer dat meer as 141, of net meer as 50%, van die rasgebaseerde wette wat die Suid-Afrikaanse regering al aangeneem het sedert 1910, vandag steeds aktief is.
AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, Ernst van Zyl het aangevoer dat bewyse van hoe vernietigend en verdraaid die Suid-Afrikaanse regering se rasbeleide is, is oral te sien.
“Verlede week is daar berig dat ’n multi-miljard, multinasionale maatskappy Shell Suid-Afrika kan verlaat nadat hy met ’n SEB-vennoot gebots het, wat $73 miljoen se beleggings en duisende werkgeleenthede in gevaar stel.” Nog ’n onlangse voorbeeld is die nuwe rassemandate wat die regering op die eiendomsektor wil afdwing.”
Hy sê SEB-wetgewing is vernietigend omdat werksgeleenthede verlore gaan en dit beleggers afskrik.