Nuuskommentaar: 15 September 2022
Deur: René van der Vyver
Ernst van Zyl, ‘n Veldtogbeampte by AfriForum, het onlangs ’n meningstuk geskryf oor die lesse wat Westerse gemeenskappe by Afrikaners se ervaring in Suid-Afrika kan leer. Wat nog meer is – dié lesse word deur die Solidariteit Beweging se selfdoen strategie tot praktiese uitvoering gebring.
Die meningstuk verskyn in IM-1776 – ʼn internasionale publikasie vir meningsvormers om te skryf oor die grootste uitdagings van hul tyd in die velde van politiek, gemeenskap, erfenis en kultuur.’n Klomp uiteenlopende meningsvormers, beide plaaslik en internasionaal, het Van Zyl se meningstuk wyd en syd gedeel. Die minderheidsgroep van Afrikaners in Suid-Afrika ervaar uitdagings in al die bogenoemde velde in Suid-Afrika en dit is ’n wonder dat ons nog steeds ʼn toekoms vir onsself hier uitkap, of eerder – “uitgrou.”
Van Zyl het buitelanders aan oud-president Paul Kruger se bekende woorde blootgestel en hulle haal hom al klaar opgewonde aan: “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms.” Hierdie waardevolle woorde dien as grondslag van die Solidariteit Beweging se aanslag: “skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes.” Die lesse, van beproefde waardes en van skeppende vernuwing, wat die buitelanders só bekoor het, klink vir ons dalk al afgesaag, maar wat my aanbetref behoort elke Suid-Afrikaanse burger opnuut kennis te neem van hierdie lesse.
Aangesien ons in die maand waarin Erfenisdag plaasvind is, lig ek eerstens die volgende les uit Van Zyl se stuk:
“Gemeenskappe moet ophou hardloop en eerder loopgrawe begin grou in die veld van instellings bou, in die grond van identiteit en tussen die berge van erfenis. Gemeenskappe moet gesonde trots in hul eie kulturele identiteit hê, want dit is noodsaaklik vir vreedsame naasbestaan.”
Van Zyl sluit hierdie gedagte af deur te skryf dat indien iemand se kultuurerfenis weggeneem word, ontwortel jy hom. “Hy sal dan as dryfhout saam met die strome na die oseaan toe vloei tot hy uitspoel op ’n vreemde strand en as vuurmaakhout opgetel word deur vreemdelinge.”
Aangesien ons weereens in beurtkrag gedompel is, lig ek tweedens die volgende les uit sy stuk:
“Die voordeel van in goeie tye leef is dat jy baie geleenthede het om ’n gemaklike lewe te lei. Máár die voordeel daarvan om in moeilike tye te leef is dat jy baie geleenthede het om ’n merkwaardige lewe te lei. Om paraat te leef op die uithoeke van menslike uitbreiding en magtige ryke, soos ’n luiperd in die Wes-Kaapse berge, is beter as om vet te word in die veiligheid van ’n dieretuin,” sluit Van Zyl af.
Aangesien die lenteseisoen aangebreek het en almal begeester is om nuwe dinge aan te pak, lig ek laastens die volgende les uit:
“Die Solidariteit Beweging streef na die ideaal om staatbestand te word deur ’n selfdoen-strategie. Dit is noodsaaklik om self verantwoordelikheid vir jou en jou gemeenskap se toekoms te neem in ’n land waar staatsverval en korrupsie heers. Jy sal nie alleen wees nie – AfriForum, met sy 306 000 lede, is die grootste burgerregteorganisasie in die Suidelike Halfrond. Jy kan betrokke raak by een van AfriForum se 155 landswye takke, wat alles doen van slaggate regmaak, tot buurtwag ry.”
Ernst se A time to dig trenches-meningstuk het met goeie rede opslae in die buiteland gemaak en ek hoop dat al hoe meer Afrikaners, saam met die Solidariteit Beweging, hierdie lesse tot praktiese uitvoering sal bring.
Lees die volle meningstuk hier: A Time to Dig Trenches — www.IM1776.com