Die wêreld is tans midde-in ʼn hiper-verkiesingseisoen. Die afgelope twee weke het kiesers in uiteenlopende samelewings vanaf Slowakye in Sentraal-Europa en Bulgarye en Serwië in Oos-Europa, tot Brits-Colombië in Kanada, Brasilië in Suid-Amerika, en Israel in die Midde-Ooste na die stembus gegaan. Die goue draad wat deur byna al hierdie verkiesings loop, is ʼn diepe onvergenoegdheid wat onder kiesers bestaan. Dit lei tot woede oor beleid en teenoor verkose politici, teleurstelling in en vervreemding van politieke stelsels, maar ook rekordhoë deelname deur kiesers en die opkoms van nuwe partye, nuwe bewegings en nuwe leiers en kandidate.
Verlede naweek het die linkse Nuwe Demokratiese Party (NDP) in die Kanadese provinsie Brits-Columbië ʼn historiese nederlaag gely toe die Konserwatiewe Party van Kanada vir die eerste keer in meer as ʼn eeu ʼn volstrekte meerderheid in ʼn verkiesing daar behaal het. Die NDP het Brits-Colombië byna ʼn dekade lank geregeer en die party se provinsiale leier en premier, David Eby, het onlangs besluit om ʼn vroeë verkiesing uit te roep in die diepe oortuiging dat kiesers ʼn nog sterker mandaat aan hom sou gee. Die teenoorgestelde het gebeur, en dit weens kommer oor stygende lewenskoste, ekonomiese stagnasie en ʼn reuse-begrotingstekort wat die provinsie se finansies toenemend in ‘n krisis gedompel het.
Duisende kilometer verder, in die Balkan, het Serwië se president, Aleksandar Vucic, ook verlede naweek ʼn bloedneus in die nasionale verkiesing gekry toe sy regse Serwiese Progressiewe Party ʼn parlementêre verkiesing teen ʼn nuwe party wat sterk gekant is teen korrupsie, verloor het. Kiesers in Serwië is toenemend kwaad oor korrupsie, die swak hantering van die ekonomie en politieke leiers wat slegs na hulself en hul vriende se belange omsien. Deelname aan die Serwiese verkiesing was die hoogste ooit.
Brasilië is een van die mees verdeelde lande ter wêreld en politieke verdeeldheid en woede dreig om dié land in ʼn hernude politieke krisis te dompel. Verlede Sondag se verkiesing is gekenmerk deur ʼn baie hoë deelnamekoers aangedryf deur ʼn groter wordende politieke kloof tussen linkse ondersteuners van president Luiz Inácio Lula da Silva en regse ondersteuners van senator Flávio Bolsonaro. Teen Dinsdag het Bolsonaro na die VSA gevlug uit vrees vir vervolging, terwyl politieke spanning dreig om Brasilië onregeerbaar te maak. Da Silva het Sondag se verkiesing gewen nadat hy staatstoelaes wat aan miljoene mense betaal word kort voor die verkiesing met 15% verhoog het. Brasilië se staatskuld beloop reeds 85% van die BBP en die land het ʼn begrotingstekort van byna 10%.
Die verkiesing in Israel is ook deur ’n rekordhoë kiesersopkoms gekenmerk. Ook in dié land is daar ʼn breuk tussen kiesers wat Benjamin Netanyahu haat en diegene wat die grond aanbid waarop hy loop. Die uitslag van die verkiesing is nie net politieke verdeeldheid nie, maar ook verskillende magsblokke wat die vorming van ʼn regering byna onmoontlik maak. Daar heers steeds (en tereg so) woede in Israel oor die terreuraanval van 7 Oktober 2023 en kiesers wil weet waarom dit nie voorkom is nie en wie die skuld daarvoor moet kry.
Kiesers in Suid-Afrika, maar ook in Nieu-Seeland en reg oor die Verenigde State van Amerika gaan binne dae ook na die stembus gaan. In al drie dié lande heers daar wesenlike kommer oor die toekoms, oor stygende lewenskoste, ekonomiese probleme en veiligheid.
In Suid-Afrika het die ANC meer as 30 jaar lank waar hy ook al op nasionale, provinsiale of plaaslike vlak regeer het korrupsie gepleeg, regeringsinstellings uitgehol, infrastruktuur laat verval en toegelaat dat misdaad toeneem. Alle aanduidings is dat kiesers die party volgende week hard gaan straf by die stembus. Die vraag is egter of kiesers dit gaan doen deur ander partye te steun of deur bloot groter apatie. Talle kiesers is steeds onseker oor vir wie hulle hul stem wil uitbring omdat soveel van die alternatiewe wat aan kiesers voorgehou word hulle nie juis opgewonde maak nie.
Kiesers in die VSA is woedend oor hoë brandstofpryse, stygende inflasie, die oorlog in Iran en oor dit wat ’n meerderheid van kiesers beskou as die Trump-administrasie se verlies aan fokus op Trump se beloftes van 2024. Indien die Demokrate volgende week se verkiesing wen, sal dit nie wees omdat dié party skielik gewild is nie, maar eerder omdat kiesers kwater is vir die Republikeine as wat hulle vir die Demokrate is. Kiesers beskou die Demokrate steeds as te radikaal en herinneringe aan die onbeheersde onwettige immigrasie, misdaad en selfs nog hoër inflasie tydens die Biden-era is nog vars in die geheue van Amerikaanse kiesers. Die gevoel is egter ook oorweldigend dat Trump nie gedoen het wat hy belowe het hy sou doen nie.
In Nieu-Seeland sal kiesers volgende naweek beslis of die huidige regse koalisieregering nog ʼn termyn sal kan regeer. Peilings dui tans op ʼn naelbytstryd tussen die huidige regeringe koalisie en die Arbeidersparty en sy linkse vennote soos die Groenparty.
Uiteindelik is een van die belangrikste vraagstukke in demokratiese lande vandag: Kan leiers en partye in ʼn tyd van uitgerekte verkiesingsveldtogte en korttermynbehoeftes van kiesers vinnig genoeg die soort veranderinge bewerkstellig waarop daardie kiesers aandring? Kan kiesers se woede deur die demokratiese stemproses opgelos word of leef ons bloot in ʼn era van groter wordende politieke onvergenoegdheid en uiteindelik ʼn onvolhoubare verlies aan vertroue in die politieke stelsels van ons tyd? Demokrasie is die afgelope weke wêreldwyd getoets en die toets sal in die komende dae voortgesit word.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-90-30-Okt-2026.pdf