‘n Opname op die Seychelle-eiland, Aldabra-atol het bevind dat nagenoeg ‘n 180 000 reuseskilpaaie daar in die natuur leef.
Dit is die grootste bevolking van dié spesie wat nog aangeteken is.
Die opname, wat deur die Seychelles Islands Foundation en die Universiteit van Exeter gelei is, is geskoei op vyf jaar se waarnemings tussen 2018 en 2022.
Die skilpaaie se getalle het herstel nadat hulle in die 19de eeu weens uitbuiting tot minder as duisend afgeneem het.
Aldabra is in 1981 as ’n streng natuurreservaat verklaar en ’n jaar later as die Verenigde Nasies se Onderwys, Wetenskap en Kultuurorganisasie se wêrelderfenisgebied erken.
Navorsers waarsku egter dat klimaatsverandering, langer droogtes, stygende seevlakke en indringerspesies steeds ’n bedreiging vir die skilpaaie en hul eiers inhou.