Die Suid-Afrikaanse Burger Lugvaartowerheid, SABLO, beoordeel steeds Airlink se lae verbyvlug oor Kaapstad-stadion voor die Springbokke se wedstryd teen die All Blacks.
Die Vliegtuig Eienaars en Vlieëniers Vereniging van Suid-Afrika sê die voorval kan die einde van toekomstige vliegvertonings beteken.
Die vereniging se president, Chris Martinus, sê hoewel die kans op ’n ongeluk klein was, kon enige fout weens die groot skare rampspoedige gevolge gehad het.
Hy sê die normale hoogte vir ’n vliegvertoning oor ’n opelugbyeenkoms is 3 000 voet, terwyl die Airlink-vliegtuig volgens hom sowat 40 voet bo die stadion gevlieg het.
Hy hoop vliegvertonings sal steeds op veilige, redelike hoogtes toegelaat word.
Intussen het Airlink sy aansoek vir ’n soortgelyke vliegvertoning by FNB-stadion dié naweek teruggetrek.