James Kemp
In ’n verklaring die dag voor die verwagte aankondiging van die DA-leier, John Steenhuisen, dat hy nie aan die party se leierskapstryd sal deelneem nie, sê die VF Plus-leier, dr. Corné Mulder, dat dié party se suksesse nie aan die DA se mislukkings toegeskryf kan word nie. Mulder sê in die verklaring dat die VF Plus se suksesse toegeskryf kan word aan die “huidige posisionering van die party wat hoop en visie vir alle kiesers daarstel.”
Met die nasionale en provinsiale verkiesing in 2019 het die VF Plus daarin geslaag om sy verteenwoordiging in die parlement en verskillende wetgewers te laat groei. Dit kan sekerlik aan verskillende faktore toegeskryf word. maar die belangrikste is die rol wat die destydse DA-leier, Mmusi Maimane, in daardie verkiesing gespeel het. Maimane se uitsprake oor wit bevoorregting en sy aanval op ’n onderwyseres van Schweizer-Reneke het tradisionele DA-kiesers van die party vervreem. Daardie verkiesing was ook die einde van Maimane se loopbaan as DA-leier.
Vyf jaar later, met die volgende verkiesing, het die DA uit hulle vorige foute geleer. Die nuwe DA-leier, John Steenhuisen, se uitsprake was vir kiesers baie meer aanvaarbaar as dié van Maimane. Helen Zille het ook haar terugkeer na die party as voorsitter van die federale raad gemaak. Dit het daartoe gelei dat die DA van die steun teruggewen het wat hy in 2019 aan die VF Plus afgestaan het.
Met die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid en die ministersposisies wat daarmee gepaardgegaan het, het opposisiepartye geleer dat die spel baie anders is wanneer jy ’n sitplek aan die kabinetstafel het. Terwyl die voormalige VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, daarin slaag om kiesers te beïndruk met die wyse waarop hy die Departement van Korrektiewe Dienste bestuur (in so ’n mate dat daar selfs diegene is wat hom as die volgende president wil sien) het die RNE se kabinetsposisies nie baie wins vir die DA opgelewer nie.
Dr. Leon Schreiber het as minister van Binnelandse Sake wel daarin geslaag om oor sekere uitsprake goeie publisiteit te verkry, maar Siviwe Gwarube en die onbenydenswaardige taak wat sy het om uitvoering aan die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (BELA) te gee, het nie haar of haar party enige guns bewys nie. Die grootste skade is egter deur die minister van Landbou en partyleier, John Steenhuisen, aangerig. Die spanning met georganiseerde landbou het veral sedert verlede jaar toegeneem met die uitbreking van bek-en-klouseer en sy departement se hantering van die inentingsproses, was die laaste druppel aan die emmer. Veral Steenhuisen se uitsprake oor die sentralisering van die inentingsproses het hom baie kritiek op die hals gehaal en selfs in ’n regsgeding met Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou laat beland.
Gedurende die tyd, met Steenhuisen se aanhang op ’n laagtepunt, vind ’n tussenverkiesing in Lyttleton in Pretoria plaas. Die DA slaag daarin om die wyk te behou, maar met slegs 270 stemme meer as die VF Plus. In aanloop tot daardie tussenverkiesing het die VF Plus gereeld openbare stemwerwingsaksies gehad wat uit die uitdeel van pamflette en interaksies met kiesers bestaan het. Die VF Plus se kandidaat, Wesley Jacobs, het ook baie moeite gedoen om soveel as moontlik van die kiesers se frustrasies in die wyk uit die weg te ruim.
Die vraag is egter of die VF Plus se veldtog in aanloop tot die verkiesing deurslaggewend was om meer kiesers oor te haal om vir hulle te stem en of ’n beduidende deel van die gemeenskap besluit het om die DA te straf.
Terwyl die volgende verkiesing oor plaaslike regeringsake sal gaan en partye op hulle prestasies (of gebrek daaraan) op munisipale vlak beoordeel gaan word, speel politieke partye se optrede op nasionale vlak ook ’n bepaalde rol. Indien die DA dus nie daarin slaag om die party se handelsmerk voor die verkiesing te beredder nie, kan dit ’n negatiewe uitwerking op hulle prestasie hê. Intussen moet die VF Plus besef dat hulle suksesse nie afhanklik van die DA se foute moet wees nie, maar op hulle eie werk en prestasies moet berus.
Kemp is die stasiebestuurder van Pretoria FM.