Luister nou

Polisie se versuime by plaasgeweld: Hofuitspraak plaas kollig in die skadu van die Madlanga-kommissie

Deur Pretoria FM Nuusspan

In ’n rigtinggewende uitspraak van die Hooggeregshof in Durban verlede maand het regter MBS Masipa bevind dat die minister van Polisie aanspreeklik gehou kan word vir skade van meer as R2 miljoen aan ’n boer se plaas.

Die saak van Arnold Raath vs. Die Minister van Polisie handel oor die polisie se versuim om ’n gewelddadige betoging te voorkom, wat gelei het tot die vernietiging van waardevolle wild en eiendom.

Die uitspraak beklemtoon nie net die grondwetlike plig van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om burgers en hul besittings te beskerm nie, maar stel ook die kollig op breër probleme in plaasveiligheid.

In die konteks van die onlangse getuienis by die Madlanga-kommissie, wat korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek, hou die uitspraak beduidende implikasies in vir die polisie se versuim om hul plig in landelike gebiede na te kom.

Die voorval het plaasgevind op 19 Mei 2015 op die plaas Kroonvrug in KwaZulu-Natal, waar Arnold Raath met makadamianeute, pynappels en wild geboer het.

Volgens die hofstukke het lede van die Mdletshe-gemeenskap die plaas binnegedring ná ’n dispuut oor dooie beeste wat hulle geglo het deur Raath vergiftig is – ’n bewering wat later deur laboratoriumtoetse weerlê is.

Die betogers het masjinerie aan die brand gesteek, gewasse vernietig en tussen tagtig en negentig waardevolle diere, insluitend njalas, swart rooibokke, rietbokke en rooiduikers, wreed geslag.

Raath het herhaaldelik die plaaslike stasiebevelvoerder, kolonel Ntuli, gebel en gewaarsku oor die dreigende gevaar, maar die polisie het nie opgetree nie.

In plaas daarvan om ondersteuning te bied, het hulle naburige boere en gemeenskapspolisiëringsforumlede weggestuur wat wou help.

Regter Masipa het in haar uitspraak die polisie se optrede – of gebrek daaraan – as onregmatig en nalatig bestempel.

Sy het verwys na artikel 205(3) van die Grondwet, wat die polisie verplig om misdaad te voorkom, openbare orde te handhaaf en inwoners en hul eiendom te beskerm. Verder het sy artikel 13(3) van die SAPD-wet aangehaal, wat vereis dat die polisie redelik en met minimale geweld optree.

Die hof het bevind dat die skade voorsienbaar was: Ntuli het vooraf waarskuwings ontvang, was bewus van die gemeenskap se woede en het selfs ’n vergadering met die provinsiale minister van Landbou, generaal Jula en brigadier Mbatha op die plaas gereël sonder Raath se toestemming.

Ten spyte van beskikbare hulpbronne soos traangas, rubberkoeëls en waterkanonne, het die polisie passief gebly, met die fokus kwansuis op Raath se persoonlike veiligheid eerder as sy eiendom.

Die bewys was oortuigend. Getuienis van Raath, sy vrou, ’n buurman, Anton Louw, en ’n plaaswerker, Lucky Mngomezulu, is deur video-opnames ondersteun, wat wys hoe die skare die kamp binnegaan, diere jaag en slag terwyl polisievoertuie en beamptes doodluiters rondstaan sonder om ’n vinger te verroer.

Ntuli se weergawe – dat hy nie die slagting gesien het nie en dat die polisie se getalle te min was, is deur die hof as ongeloofwaardig verwerp.

Die hof het bevind dat daar ’n direkte verband tussen die polisie se nalatigheid en die boer se skade was: As die polisie redelik opgetree het, sou die skade waarskynlik voorkom gewees het.

Die finale skadebedrag is op R2 029 000 vasgestel, gebaseer op ’n ooreengekome waardasie van die diere, met rente van 9% per jaar, sowel as die boer se regskoste.

Hierdie uitspraak het verreikende implikasies vir plaasveiligheid in Suid-Afrika. Plaasaanvalle en gronddispute is reeds jare ’n bron van spanning.

Eerstens versterk dit die reg van boere op polisiebeskerming terwyl landelike misdaadstatistiek hoog bly. Die uitspraak skep ’n presedent dat die staat nie kan wegkom met passiwiteit nie. Boere wat bedreig voel, kan nou sterker argumenteer vir proaktiewe polisie-ingryping, soos die ontplooiing van spesiale eenhede of samewerking met gemeenskapstrukture.  Dit kan lei tot beter implementering van die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie, wat reeds in 2019 geloods is maar dikwels mank gaan aan aksie.

Tweedens beklemtoon die uitspraak die grondwetlike dimensie van plaasveiligheid. Regter Masipa het verwys na sake soos Carmichele v Minister of Safety and Security en Minister of Safety and Security v Van Duivenboden, wat die staat se positiewe plig bevestig om regte op lewe, waardigheid en eiendom te beskerm.

In gebiede soos KwaZulu-Natal, waar historiese grondkwessies en armoede bots met kommersiële boerdery, kan hierdie uitspraak die polisie noop om neutraal te bly en binne die wet op te tree, soos van die polisie verwag kan word, en nie aan gemeenskapsdruk toe te gee nie.

Dit kan ook litigasie aanmoedig: Boere wat slagoffers van soortgelyke voorvalle word, het nou ’n sterker basis vir eise vir skadevergoeding teen die staat, wat moontlik lei tot hoër verantwoordbaarheid en beter opleiding vir polisiebeamptes in konflikhantering.

In die lig van die Madlanga-kommissie se getuienis tot dusver, kry hierdie implikasies ’n donkerder toon. Die kommissie word gelei deur afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, Mbuyiseli Madlanga, en ondersoek bewerings van misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel.

Verhore het op 17 September 2025 begin, met getuienis deur luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, die einste KwaZulu-Natal se polisiehoof, wat skokkende onthullings gemaak het oor misdaadsindikate binne die SAPD.

 

Hy het beskryf hoe politieke figure en korrupte beamptes ondersoeke saboteer, met spesifieke verwysings na inmenging in sake soos die arrestasie van sakeman KT Molefe, wat by georganiseerde misdaad betrek word.

Vandeesweek het

getuienis deur die sogenaamde “Getuie B” verder blootgelê hoe moorde soos dié op ingenieur Armand Swart in Vereeniging, deel was van breër netwerke wat die polisie infiltreer.

 

Die kommissie het ook gehoor van druk op ondersoekers van bo af, insluitend van Valke-lede soos Shadrack Sibiya.

 

Die onthullings dui op sistemiese swakhede: Korrupsie en politieke inmenging ondermyn die polisie se vermoë om hul grondwetlike pligte na te kom, veral in sensitiewe gebiede soos plase waar gronddispute polities gelaai is.

Vir plaasveiligheid beteken dit dat die Raath-uitspraak nie net ’n geïsoleerde oorwinning is nie, maar ’n waarskuwing. As die Madlanga-kommissie se getuienis – wat reeds lei tot oproepe vir hervorming – wys op ’n polisie wat deur misdadige elemente gekompromitteer is, kan versuime soos dié op Kroonvrug simptomaties wees van breër probleme.

 

Implikasies sluit in die behoefte aan ’n nuwe nasionale misdaadvoorkomingsraamwerk, soos voorgestel deur onder andere AfriForum.

Die regering het reeds erken dat die kommissie hul verbintenis tot die regstaat toon, maar konkrete stappe, soos die vestiging van ’n gespesialiseerde landelike veiligheidseenheid, is noodsaaklik.

Uiteindelik kan hierdie uitspraak en die Madlanga-kommissie saam bydra om vertroue in die polisie te herstel.

Vir boere bied dit hoop op beter beskerming, maar dit vereis dat die staat die kommissie se aanbevelings implementeer om korrupsie uit te roei. Daarsonder sal plaasveiligheid ’n leë belofte bly in ’n land waar geweld en ongeregtigheid nog te dikwels ongestraf bly.

Spies is ’n prokureur by Hurter Spies Ingelyf.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Lynnwood padwerke - The Citizen

Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande

Guptas

Gupta-broers steeds gesoek

Cyril Ramaphosa, South Africa's president, at the opening of the South African Reserve Bank head office, after renovations, and museum in Pretoria, South Africa, on Friday, June 19, 2026. Traders scaled back bets for a South African rate hike next month. Photographer: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images

Ramaphosa: Bewerings oor ‘wit volksmoord’ benadeel ekonomie

Ad hoc - IOL

Ad hoc-komitee finaliseer sy verslag

Fotokrediet: Groundup

SASSA funksioneer met net 44%

Ander Nuus Artikels

Israelse vlug - France 24
Israelse passasiers het ‘n noue ontkoming tydens vlug
Fotokrediet: Daily Maverick
Diplomatieke stappe teen Amerikaanse ambassadeur
plaasaanvalle - Maroela Media
Vryemarkstigting: Risiko vir moorde is groter vir boere
Lynnwood padwerke - The Citizen
Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande
Guptas
Gupta-broers steeds gesoek

Luister nou