Die Grensbestuursowerheid (GBO) het bevestig dat bedrywighede by vyf grensposte noodgedwonge gestaak moes word weens oorstromings. Die betrokke grensposte sluit Stockpoort, Makgobistad, Bray, Groblersbrug en Pontdrift in.
Volgens die GBO se kommissaris, dr. Michael Masiapato, is Stockpoort die ergste geraak en moes alle bedrywighede opgeskort word. “Die grenspos is heeltemal omring deur vloedwater. Die hoofpad daarheen is onbegaanbaar en selfs die brug aan die ander kant het onder die water verdwyn,” het hy gesê.
Wetstoepassers en immigrasiebeamptes was vir ’n geruime tyd op ’n eiland by die grenspos vasgekeer.
Nooddienste in Limpopo is dadelik in kennis gestel en het gister ’n reddingsoperasie van stapel gestuur. Gestrande amptenare is met ’n helikopter na veiligheid geneem.
Stockpoort is egter nie die enigste grenspos wat deur oorstromings geraak is nie. Die Makgobistad-grenspos bly gesluit weens die hoë watervlakke van die Moloporivier, terwyl Bray en Groblersbrug ook erg onder water is en alle dienste daar gestaak is. By Pontdrift bly die waterpeil gevaarlik hoogn en normale bedrywighede sal hervat kan word sodra toestande verbeter.
Daar is egter ’n bietjie verligting vir reisigers, aangesien die GBO bevestig het dat die watervlakke by die Derdepoort-grenspos gedaal het en dat bedrywighede daar weer normaal voortgaan.
Die GBO het reisigers en kommersiële vervoeroperateurs aangeraai om alternatiewe grensposte te gebruik totdat die situasie by die geslote grensposte stabiliseer.
“Ons beveel aan dat reisigers die Ramatlabama-, Kopfontein-, Beitbrug- of Skilpadshek-grenspos benut,” het Masiapato gesê.
Reisigers word aangeraai om vooraf hul roetes te beplan en op hoogte te bly van enige verdere kennisgewings oor grensposte se status.
One Response
Baie dankie vir die berig.,