31 Januarie 2024
Drie polisiebeamptes van Verkykerskop in die Vrystaat, wat glo drank met ’n bankkaart gekoop het wat by ’n tellermasjien agtergelaat is, sal na verwagting Maandag om borgtog aansoek doen.
Konstabel Tumelo Mokone, sersant Lucky Kubheka en sersant Tieho Tieho, verbonde aan die eenheid vir sigbare polisiëring in Verkykerskop, is gisteroggend deur die Valke op verskeie aanklagte van diefstal en korrupsie aangekeer.
Volgens die polisievoordvoerder, kaptein Loraine Earle, het die beamptes dieselfde dag in die landdroshof in Harrismith verskyn, waar die saak uitgestel is.
Earle sê die voorval het in Desember 2023 gebeur toe ’n klaer sy bankkaart in ’n OTM in Harrismith vergeet het. Een van die beamptes het die kaart gevat en saam met twee kollegas drank by drie drankwinkels gekoop het.
Volgens Earle het die beamptes die klaer genader en probeer om hom met R1 000 om te koop om die saak te laat vaar. Die klaer het geweier en het die voorval aangemeld.