Luister nou

Europa swaai verder na regs, maar politieke sentrum behou die mag

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 11 Junie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Terwyl die president van die Europese Kommissie, die Duitser Ursula von der Leyen, Sondagaand ’n oorwinning vir die sentrumregse groepering van Europese partye in die Europese Parlement aangekondig het, was die ware oorwinnaars van dié verkiesing eerder twee ander vroue, naamlik Marine Le Pen, leier van die regse Nasionale Samekoms-party in Frankryk, en Giorgia Meloni, leier van die regse Broederskap van Italië-party in Italië.

Le Pen se party met 32% van die stemme in Frankryk en Meloni se party met 30% van die stemme in Italië het die swaai na regs in Europa gelei. In Oostenryk het die regse Vryheidsparty, met 30% van die stemme, selfs beter gedoen as wat peilings voorspel het. In Duitsland is die Alternatief vir Duitsland (AfD) vir die eerste keer ooit die tweede grootste Duitse party in die Europese Parlement. Ook in Nederland, België, Spanje, Portugal en Griekeland het regse partye sterk groei in steun geniet.

Von der Leyen is egter nie heeltemal verkeerd in haar selfversekerde oortuiging dat die uitslag ook vir haar sentrumregse blok goeie nuus is nie. Die Europese Volksparty wat talle sentrumregse, gematigde en christen-demokratiese partye van regoor Europa insluit, het selfs meer setels as in die vorige verkiesing gewen. Die grootste party in hierdie blok, die sentrumregse Christen Demokrate van Duitsland, het juis gegroei omdat hulle retoriek oor sake soos immigrasie, energie en omgewingsregulasies wat onder andere die landbou en vervaardigingsektore ernstig raak, wesenlik na regs beweeg het. In Spanje het die sentrumregse Volksparty ook vir die eerste keer in ’n lang tyd eerste geëindig.

Sedert die eerste Europese parlementsverkiesing in 1979 domineer twee politieke groeperinge, naamlik die sentrumregse Volksparty en die sentrumlinkse sosiaal-demokrate, nog altyd die Europese Unie. Daarmee saam het Duitsland en Frankryk ook nog altyd ’n baie dominante rol in die EU vervul. Dit mag ná verlede week se verkiesing wel verander.

Von der Leyen het die steun van heelwat politieke groeperinge of partye buite haar sentrumregse blok nodig om vir nog ’n termyn verkies te word. Die sentrumlinkse sosiaal-demokrate het enkele setels verloor, terwyl die groepering van liberale partye, wat tot onlangs deur die Franse party van Emmanuel Macron gelei is, een van die grootste verloorders in die verkiesing was.

Van die sewe politieke groeperinge in die Europese parlement was die liberales en die groenpartye die twee grootste verloorders. Daar sal dus voortaan baie minder parlementslede van linkse partye in die Europese parlement wees. Die sosiaal-demokrate van Duitsland wat dekades lank een van die grootste politieke partye in die Europese Parlement was, het ook ’n reusenederlaag gely.

Terwyl die sentrumregse groepering gegroei het, het steun vir meer nasionalistiese en regse partye selfs baie meer gegroei. Die groot vraag is egter of uiteenlopende regse partye ná die verkiesing sal kan saamwerk. Die verdelingslyne tussen hierdie partye oor kwessies van nasionale soewereiniteit, die reg op selfbeskikking van Europese gemeenskappe, die oorlog in Oekraïne, ekonomiese beleid wat vraagstukke oor proteksionisme insluit, en die rol van Navo is baie moeilik oorkombaar.

Die uitslag van die Europese parlementsverkiesing stuur ’n duidelike waarskuwing aan die politieke elite in Brussel. Europeërs vra vir verandering. Indien daardie verandering nie intree nie, kan ons verwag dat regse partye oor die volgende paar jaar regoor Europa nog meer steun sal wen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Matrieks

’n Reusegroep matrieks het dié week in Gauteng hulle eindeksamen begin skryf.

Gemini_Generated_Image_pki0jdpki0jdpki0

Groot dele van hoofstad sonder krag

Mark Oppenheimer

Ons moet vry wees om die regering te kritiseer

Cilliers Brink

Brink: Ek was nie verras toe Moya my verraai nie

Internasionale Perspektief nuut

Rubio waarsku dat Weste dalk laaste kans op oorlewing het

Ander Nuus Artikels

Lex Libertas reageer op rasgebaseerde beleid vir die huur van staatsplaasgrond
Die voorspaakgroep, Lex Libertas sê die regering se rasgebaseerde beleid vir die huur van staatsplaasgrond versterk die bewering dat minderhede in Suid-Afrika vervolg word.
Die organisasie berei ’n verslag voor en wil met die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling vergader.
Dit volg nadat departementele advertensies vir staatsplase in Mpumalanga en die Wes-Kaap bepaal het dat slegs swart, Indiër- en bruin Suid-Afrikaanse burgers kan aansoek doen.
Lex Libertas se uitvoerende direkteur, dr. Ernst Roets, sê grondbeleid moet ekonomiese groei, voedselsekerheid en landelike werkgeleenthede bevorder, terwyl gelykheid voor die reg gehandhaaf word.
Fotokrediet: Instagram
Lex Libertas reageer op rasgebaseerde beleid
Fotokrediet: The Citizen
OVK gaan kandidaatbenoemingsproses vir 32 partye heropen
Boer tot bord
Wat is sukses?
Matrieks
’n Reusegroep matrieks het dié week in Gauteng hulle eindeksamen begin skryf.
Gemini_Generated_Image_pki0jdpki0jdpki0
Groot dele van hoofstad sonder krag

Luister nou