Nuuskommentaar: 8 April 2024
Deur: Alana Bailey
In aanloop tot die verkiesing is migrasie een van die kwessies wat heelwat aandag geniet. Van die kandidate maak uitlatings wat gevaarlik na aan xenofobie klink, terwyl ander Suid-Afrikaners hul frustrasies met die land se swak grensbeheer verwoord.
In dié opsig verskil die land nie veel van die res van die wêreld nie. Met moderne openbare vervoer wat migrasie vergemaklik, uitdagings om grense effektief te bestuur, arbeidsbehoeftes, internasionale kompetisie vir skaars vaardighede en kennis, asook die netelige kwessie van verpligtinge teenoor vlugtelinge uit lewensbedreigende omstandighede, bly die hantering van migrante wêreldwyd in die kollig.
Onlangs het twee voorstelle vir wetswysigings plaaslik die lig gesien. Die eerste was die Witskrif op Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming. Daarna het die Tweede Konsep vir die Wysiging van die Immigrasie Regulasies, 2014 gevolg. AfriForum was een van die vele instellings wat kommentaar daarop gelewer het.
Die witskrif fokus veral op meer effektiewe grensbeheer. Van die kwessies is dat Suid-Afrikaanse burgerskap tans té maklik verkry kan word, en dat mense die opsie om vir vlugtelingstatus aansoek te doen, onder meer vir ekonomiese redes uitbuit. Hoe die departement hierdie kwessies wil aanpak is nog onduidelik.
Dit maak wel baie staat op die werksaamhede van die Grensbestuursowerheid wat in 2023 amptelik met hulle werksaamhede begin het. Maar hoe betroubaar is die owerheid se personeel en hoeveel mense glip by hulle verby?
’n Positiewe voorstel in die witskrif oor asielsoekers is dat die “eerste land”-beginsel voortaan ook in Suid-Afrika moet geld. Dit behels dat asielsoekers nie deur enige lande mag reis en daarna eers plaaslik om vlugtelingstatus mag aansoek doen nie. Dit behoort opportuniste af te skrik of hulle te forseer om eerder die normale roete met ’n immigrasie-aansoek te volg.
Die wysigings wat aan die regulasies voorgestel word, is daarenteen duideliker en lyk selfs positief. Onder meer sal mense wat op grond van skaars vaardighede en kwalifikasies om werkspermitte wil aansoek doen, moet bewys dat hulle by toepaslike professionele liggame geregistreer is. Ruimer voorsiening word gemaak vir kapitaalkragtige migrante wat afstandwerk verrig, om met ’n sogenaamde “digitale nomadepermit” te werk. Enigeen wat meer as R1 miloen per jaar verdien, sal hiervoor kan aansoek doen. As hulle langer as ses maande in Suid-Afrika vertoef, sal hulle ook verplig wees om by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te registreer.
Tyd sal leer of die voorgestelde regulasies wel so aanvaar word, asook of die uitkoms daarvan inderdaad positief vir die land sal wees.
Wetgewing sal egter geen verskil maak aan swak dienslewering nie. Solank die politieke wil ontbreek om lui, korrupte of oneffektiewe personeel aanspreeklik te hou, gaan die beste wetgewing ter wêreld niks verander aan die vele frustrasies wat lede van die publiek, insluitend migrante, ervaar nie.
Die Departement van Binnelandse Sake se swak kommunikasie met die publiek en lang wagtye nadat aansoeke ingedien is, skrik kapitaalkragtige en hooggeskoolde voornemende immigrante af, terwyl die poreuse grense van die land dit steeds vir ongeskooldes moontlik maak om bloot in die land in te stap en in die samelewing te verdwyn.
Naas die genoemde pogings om beter wetgewing daar te stel, moet die privatisering van meer dienste van die departement oorweeg word, en sal gemeenskappe self moet inspring om grense te beveilig, soos wat buurtwagte van AfriForum reeds verskeie jare lank al doen.