Nuuskommentaar: 18 Desember 2023
Deur: Marais de Vaal
Toegang tot skoon drinkwater en ’n omgewing wat nie skadelik vir mense se gesondheid is nie, is fundamentele menseregte wat verskans is in die Handves van Regte. Dit is ’n belofte dat die staat hierdie regte moet eerbiedig, beskerm, bevorder en redelike wetgewende en ander maatreëls moet tref om binne sy beskikbare middele elk van hierdie regte in toenemende mate te verwesenlik. Dié ideale is prysenswaardig, maar is dít die realiteit vir Suid-Afrikaners?
Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se Nasionale Blou-, Groen- en Geen-Druppelverlsae vir 2023 beantwoord hierdie vraag en bewys juis die teendeel van die Handves van Regte se belofte. In plaas daarvan om die regte in ’n toenemende mate te verwesenlik, misluk die staat in ’n toenemende mate daarin om skoon drinkwater aan die land se inwoners te voorsien en om natuurlike waterhulpbronne teen rioolbesoedeling te beskerm.
Die Nasionale Blou-, Groen- en Geen-Druppelverlsae bevat die uitslae van omvattende oudits van die hele land se watervoorsieningstelsels (WVS’e), rioolafvalwaterbehandelingswerke (RAWBW’e) en munisipale waterverliese. Die doel daarvan is om die prestasievlak van hierdie stelsels te bepaal en om die risiko’s te identifiseer wat hierdie stelsels in gevaar stel.
’n Projek van hierdie omvang is geen geringe prestasie nie: 985 WVS’s, 1 004 RAWBW’s en 144 waterdiensteowerhede is oor ’n tydperk van 12 maande bestudeer. Die DWS het homself dus goed van sy taak gekwyt en die bekendmaking van hierdie uitslae is lofwaardig. Dit plaas die wanprestasie van die oorgrote meerderheid van munisipaliteite, wat primêr verantwoordelik is vir water- en sanitasiedienste, in die kollig.
Die mees kommerwekkende uitslae sluit die volgende in:
- 46% van watervoorsieningstelsels se drinkwater voldoen nie aan mikrobiologiese standaarde vir veilige menslike gebruik nie.
- Slegs 15% van rioolafvalwaterbehandelingswerke behandel riool tot ’n voldoende mikrobiologiese vlak om veilig in die omgewing vrygestel te word. Hierdeur word ’n bose kringloop geskep wat ook die gehalte van drinkwater kan beïnvloed en tot lewensgevaarlike situasies kan lei.
- Algehele waterverlies nasionaal – as gevolg van lekkasies in die verspreidingsnetwerk – staan op 40,8%.
Tog paai die minister van Water en Sanitasie: “Daar is geen krisis nie. Ons weet wat die probleme is.”
Die publiek weet ook lankal wat die probleme is: die staat beskik nie oor die middele om drink- en rioolwaterstelsels doeltreffend te bestuur nie. Daar is begrotingstekorte omdat munisipale diensleweringstariewe nie ingevorder word nie. Infrastruktuur verkrummel en daar is ’n reusegebrek aan gekwalifiseerde personeel om stelsels na behore te bedryf en te onderhou. Daarom kan bykans die helfte van gemeenskappe regoor die land nie vertrou dat die kraanwater wat hulle vandag drink – dis nou as daar enigsins water is – hulle nie môre in die hospitaal gaan laat beland nie.
Gemeenskappe se werklikheid gooi dus koue water op die minister se gerusstellings.
Wat is dan die oplossing as die regering nie sy beloftes nakom nie?
Die probleem lê nie in die ideale wat die Handves van Regte nastreef nie, maar eerder in die uitvoering en praktiese implementering daarvan – met ander woorde: goeie regering. Gegewe die regering se uiters beperkte middele, behoort gemeenskappe met die nodige kundigheid en hulpbronne self moue op te rol om hul dorpe se water- en rioolprobleme op te los. Die regering moet die hulp boonop met ope arms verwelkom, eerder as om water as ’n politieke speelbal te gebruik.
Water is lewe. Daarsonder kan geen van die Handves van Regte se beloftes nagekom word nie.