13 Februarie 2025
Die departement van onderwys in Gauteng sê hy doen wat hy kan om oorvol skole in dié provinsie by te staan en ondersteun, maar kan nie elke kind by die skool van hulle keuse akkommodeer nie.
Dit kom nadat verskeie rolspelers in die onderwysbedryf gesê het hulle is bekommerd oor oorvol skole nadat ‘n onderwyseres in ‘n TiktTok-video gesê het dat sy sukkel om haar klas met 53 graad 1-leerlinge te hanteer.
Die DA se skadu-LUR vir onderwys in Gauteng, Sergio Isa Dos Santos, sê hy het só ‘n vol klas self beleef met ‘n besoek aan die Randvaal Laerkool in Sedibeng. Volgens hom kort die skool minstens vier bykomende klaskamers.
Santos eis ook meer inligting by die departement oor “hulle belofte om 4 000 satelliet skole te bou,” en wil ook weet waarom dit nie gedoen is nie.
Die departement se woordvoerder, Steve Mabona sê hulle het nie 4 000 sattelliet skole belowe nie, maar meen hulle het gesê dat nuwe sattelliet skole ongeveer 4 417 bykomende plekke skep vir kinders om in oorvol skole geplaas te word.
Mabona sê nog skole moet voltooi word.