Luister nou

Verskeie redes waarom Trump steeds kan wen

Deur Pretoria FM Nuusspan

26 September 2024

Vanjaar se Amerikaanse verkiesing word reeds as een van die mees onvoorspelbare, maar ook die vreemdste in dekades bestempel. Afgesien van die twee sluipmoordpogings op Donald Trump, waarvan die eerste op 13 Julie amper noodlottig was, is die Demokrate se aanvanklike kandidaat, Joe Biden, se onttrekking lank ná die afhandeling van die voorverkiesings ook totaal ongewoon. Netso is die byna naatlose oorgang wat die Demokrate van Biden na Kamala Harris as hulle kandidaat gemaak het, ook totaal ongewoon.

Gedurende die eerste ses maande vanjaar het dit toenemend duidelik geword dat pres. Biden se ouderdom, en in die besonder sy kognitiewe en algemene fisieke agteruitgang, ʼn enorme uitdaging geraak het. Biden sou tydens vanjaar se verkiesing op 81-jarige ouderdom, minder as drie weke voor sy 82ste verjaardag, die oudste presidentskandidaat in die geskiedenis van die VSA gewees het. Met sy onttrekking as kandidaat, het Trump skielik die oudste presidentskandidaat geword.

Dit was reeds verlede jaar duidelik dat Biden ʼn opdraande stryd sou voer om tot ʼn tweede termyn verkies te word. Biden was veral ongewild ná drie jaar se hoë inflasie en algemene kommer oor die lewenskoste in die VSA en die Amerikaanse ekonomie. Verder was die reuse-instroming van onwettige immigrante ook besig om Biden se reputasie groot skade te berokken. Amerika se rampspoedige onttrekking aan Afganistan, die voortslepende oorlog in Oekraïne en die toenemende konflik tussen Israel en Hamas, maar ook die breër destabilisering van die Midde-Ooste deur groepe soos Hisbolla en die Hoeti’s, het verder bygedra tot kommer onder Amerikaners of Amerika se buitelandse beleid slaag.

Vir die grootste deel van die eerste helfte van vanjaar was Trump dus gemaklik voor teen Biden. Ná die twee se debat aan die einde van Junie in Atlanta het die Demokrate ʼn reusagtige nederlaag begin vrees. En toe onttrek Biden en word hy sonder moeite en met ongekende eenheid onder die Demokrate deur adjunkpresident Kamala Harris, op daardie tydstip eintlik nog redelik onbekend en ook nie baie gewild nie, vervang. Sedertdien het peilings so rondom ʼn voorsprong van vyf persent vir Harris rondbeweeg, veral ná haar nominasie en ná haar debat met Trump.

Wat Harris en die Demokrate die afgelope agt weke reggekry het, is redelik noemenswaardig. Sy geniet ʼn voorsprong wat donasies betref, die omvang van haar veldtog op grondvlak en die vlakke van entoesiasme wat onder die Demokrate heers.

Trump was altyd veronderstel om vanjaar beter te vaar as in 2020, juis weens die ekonomie, immigrasie en buitelandse beleid. Hy het egter baie foute begaan. Trump kan egter steeds wen. Eerstens juis vanweë hierdie drie kwessies, en die feit dat kiesers Trump op al drie dié gebiede bo Harris verkies. Tweedens word Harris steeds met ʼn ongewilde Biden geassosieer. Derdens is Harris se steun onder liberale, stedelike kiesers gekonsentreer, terwyl Trump se steun wyer verspreid is onder ʼn toenemend diverse groep van werkersklas-Amerikaners. Trump sal drie dinge moet doen om in November te wen: Verbind Harris daagliks met Biden en beeld haar as te liberaal uit. Fokus op die ekonomie, immigrasie en buitelandse beleid. Vermy omstredenheid. Verhoog die Republikeine se entoesiasme en motivering, en kry hulle by die stembus. Uiteindelik gaan vanjaar se Amerikaanse verkiesing in slegs enkele distrikte van die sewe swaaistate deur ʼn paar duisend kiesers uit ʼn totaal van meer as 160 miljoen beslis word. Vir die huidige is dit onmoontlik om die uitslag te voorspel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Verkiesing - Trek Kruisie - OVK copy

OVK ontvang 700 klagtes oor verkiesingsverwante inhoud

Fotokrediet: VF Plus

Rietvleidam se behandelingsaanleg is buite werking

Fotokrediet: Marshall Security

Suid-Afrikaners verloor miljarde aan digitale bankbedrog

Lex Libertas reageer op rasgebaseerde beleid vir die huur van staatsplaasgrond
Die voorspaakgroep, Lex Libertas sê die regering se rasgebaseerde beleid vir die huur van staatsplaasgrond versterk die bewering dat minderhede in Suid-Afrika vervolg word.
Die organisasie berei ’n verslag voor en wil met die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling vergader.
Dit volg nadat departementele advertensies vir staatsplase in Mpumalanga en die Wes-Kaap bepaal het dat slegs swart, Indiër- en bruin Suid-Afrikaanse burgers kan aansoek doen.
Lex Libertas se uitvoerende direkteur, dr. Ernst Roets, sê grondbeleid moet ekonomiese groei, voedselsekerheid en landelike werkgeleenthede bevorder, terwyl gelykheid voor die reg gehandhaaf word.
Fotokrediet: Instagram

Lex Libertas reageer op rasgebaseerde beleid

Fotokrediet: The Citizen

OVK gaan kandidaatbenoemingsproses vir 32 partye heropen

Ander Nuus Artikels

Polisiebeamptes
SAPD: Meer wit, bruin en Indiër-rekrute gesoek
Brandstof
Godongwana kondig verligting by die pompe aan
Fotokrediet: Vecteezy
Mini-begroting onder druk: BOSA en AfriForum eis brandstofverligting
Verkiesing - Trek Kruisie - OVK copy
OVK ontvang 700 klagtes oor verkiesingsverwante inhoud
Fotokrediet: VF Plus
Rietvleidam se behandelingsaanleg is buite werking

Luister nou