Nuuskommentaar: 22 Oktober 2024
Deur: Charné Mostert
Panyaza Lesufi, Premier van Gauteng, laat gereeld mense se wenkbroue lig met sy omstrede uitsprake. In Oktober vanjaar het hy sy X (voorheen Twitter)-profiel uitgevee ná kritiek op ’n twiet wat hy gemaak het. Hy het beweer dat hy dit gedoen het weens teenreaksie, maar dit wek vrae oor die ware motiewe agter sy optrede. In vandag se wêreld van selfparkerende voertuie, kuberintelligensie, en onbeheerbare sosiale media is fopnuus, verdraaide waarhede en politieke strategieë aan die orde van die dag, wat ’n nuwe invloed op die politiek het.
Platforms soos X, Facebook en TikTok word deur politici en politieke magte gebruik om direk met hul ondersteuners te kommunikeer, sonder die filter van tradisionele media. Dit skep ’n nuwe dinamika waar die publiek onmiddellike toegang het tot politici se uitsprake, maar ook die mag om kritiek direk en in groot volumes te lewer – iets wat in die verlede ondenkbaar was. Hierdie platforms gee nie net toegang nie, maar stel ook die publiek in staat om ’n rol te speel in hoe narratiewe vorm aanneem.
Lesufi het sy X-rekening uitgevee ná bewerings dat hy deur die ANC-leierskap geroep is oor sy kritiek teenoor die regering van nasionale eenheid (RNE). In ’n era waar politieke verantwoordbaarheid dikwels deur sosiale media aangevuur word, is sy vinnige heraktivering van die rekening interessant – dit is deel van ’n groter strategie wat daarop gemik is om publieke beeld skoon te hou, selfs te midde van skandale. Dit wys op die uitdaging vir politieke figure: om sosiale media te gebruik om narratiewe te beheer, selfs wanneer hul eie dade onder ’n vergrootglas kom.
Hoewel sosiale media die vermoë het om vinnig inligting oor te dra, bring dit ook groot risiko’s mee. Een van die grootste kwessies is die opkoms van “bots” en fopnuus, wat gebruik word om openbare persepsies te manipuleer en politieke agendas te bevorder. Hierdie bots staan bekend as outomatiese programme wat menslike gebruikers naboots en kan gebruik word om inligting te verdraai deur valse narratiewe te versterk en verwarring onder die publiek te skep. Dit is veral gevaarlik in tye van krisis of politieke druk.
Die invloed van fopnuus op Suid-Afrika se politiek is reeds opmerklik. Veral tydens die COVID-19-pandemie het verkeerde inligting die potensiaal gehad om groot paniek te saai en vertroue in instellings te ondermyn. ’n Bekende voorbeeld is die misbruik van historiese beeldmateriaal om hedendaagse gebeure verkeerd voor te stel, soos wat gebeur het met Renaldo Gouws vroeër vanjaar. Hierdie soort taktiek help om sekere politieke narratiewe te versterk, terwyl dit die publiek se vermoë om feite van fiksie te onderskei, verder verdoesel.
Sosiale media het die politieke landskap in Suid-Afrika onherroeplik verander. Platforms soos X stel politici in staat om direk met die publiek te skakel en boodskappe ongeredigeerd oor te dra. Hierdie platforms bied egter ook geleenthede vir die verspreiding van misleidende inligting, wat deur bots of georganiseerde sosiale media veldtogte aangevuur kan word. Die uitdaging vir Suid-Afrikaners lê daarin om digitale geletterdheid te verbeter en kritiese denke aan te wend wanneer hulle aanlyn inligting verbruik. Dit is die enigste manier om die ware mag van sosiale media te benut sonder om in die slaggate daarvan te trap.