8 November 2024
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê hy is bekommerd oor die vries van alle aanstellings, vanaf posvlak twee en hoër, sonder enige vooraf kennisgewing aan skole.
Dit volg nadat hierdie poste in die Staatskoerant vir aanstelling op 1 Januarie 2025 bekend gemaak is.
Die hoof van Ontwikkeling by die SOS, Melanie Buys sê hierdie onverwagte besluit het ernstige implikasies vir skole, aangesien hulle nou nie in staat is om roosterbeplanning vir die volgende jaar te doen nie.
Buys sê verskeie skoolhoofde het egter bevestig dat aanstellingsbriewe wat Woensdag by die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se distrikskantore afgehaal is, nog goedgekeur is, maar teen Donderdag is skoolhoofde ingelig dat alle poste met onmiddelike ingang gevries is tot 1 April 2025.
Die hoof van die departement het hierdie besluit gister in ‘n skrywe bevestig, al is daar nog geen wysigings in die Staatskoerant gemaak nie.
Buys meen die gebeure wek ernstige kommer oor hoe hierdie besluite gekommunikeer is. “Mens wonder of dit dalk ‘n vooruitskouing is van die situasie wat gaan ontstaan wanneer die BELA-wet amptelik in werking gestel word.”