Die vervaardiger en akteur Willie Esterhuizen het glo 380 kanale op YouTube van kopieregskending aangekla en laat toemaak.
Esterhuizen en ander bekendes spoeg vuur oor opnames van Vetkoekpaleis III wat op die roofkykplatform, Komedie Shop te koop was. Dít, voordat AfriForum TV – wat Vetkoekpaleis III eksklusief vir AfriForum TV in die AfriForum-teater verfilm – dit eens begin uitsaai het.
“As hulle net klein stukkies daarvan opsit, is dit oukei, maar nie die volledige episodes nie. En as hulle geld daaruit maak, pla dit my nóg meer. Dis baie onregverdig as mense geld uit jóú goed maak,” sê Esterhuizen.
Lizz Meiring, wat ook in die jongste seisoen van Vetkoekpaleis III speel sê die vervaardiger agter die Komedie Shop steel nie net van die bedryf nie, hy steel van die kykers.
Volgens Meiring het sy hom beskaaf laat weet dat hy kopieregskending en diefstal pleeg en homself onregmatig verryk.
Die Komedie Shop het onlangs verskeie Afrikaanse TV-reekse via WhatsApp bemark, maar dit is onbekend wie daaragter sit.
Die kanaalhoof van kykNET en MultiChoice se direkteur van premiumkanale, Waldimar Pelser, sê roofkyk ontneem almal wat in die vervaardiging van Afrikaanse inhoud belê.
Fotokrediet: AfriForum Teater