Die Departement van Landbou het ’n nuwe uitbreking van bek-en-klouseer op ’n kommersiële plaas in die Moqhaka-munisipaliteit in die Vrystaat bevestig. Dié uitbreking, wat op 10 Julie bevestig is, bring die totale getal aangemelde uitbrekings van bek-en-klouseer in Suid-Afrika op 270 te staan, wat oor vyf van die land se nege provinsies versprei is. Slegs 21 van die gevalle is tot dusver opgelos.
Die betrokke plaas in die Kroonstad-staatsveeartsenygebied is onmiddellik onder kwarantyn geplaas en die owerhede is tans besig om vas te stel waar die bron van die besmettins is.
Die departement het bevestig dat entstowwe uit Botswana ingevoer word om die verspreiding van die siekte te stuit. Bek-en-klouseer is nie noodwendig dodelik nie, maar dit dwing groot voerkrale tot kwarantynmaatreëls, wat vleisvoorsiening ontwrig en pryse opjaag.
Die minister van landbou, John Steenhuisen het intussen aangekondig dat Onderstepoort opgeknap word sodat Suid-Afrika nie meer afhanklik van ingevoerde entstowwe sal wees nie.
Volgens markontleders dra die uitbrekings by tot skerp prysstygings. Rakpryse vir beesvleis is tot 20% hoër as ’n jaar gelede, terwyl karkaspryse tot 45% gestyg het.