Luister nou

Noem sy naam: Hy is Henry Nowak

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Op 3 Desember verlede jaar is die 18-jarige Britse student Henry Nowak in Southampton, Engeland, deur Vickrum Digwa vermoor. Digwa het Nowak vyf keer met ʼn mes gesteek. Die rede waarom Nowak se moord egter die afgelope paar dae wêreldwyd opslae maak, is die feit dat polisiebeamptes van die Hampshire and Isle of Wight-polisiekantoor met hulle aankoms op die toneel Digwa se bewering dat Nowak rassisties teenoor hom was onmiddellik aanvaar het. Hulle het die swaargewonde Nowak selfs geboei ten spyte daarvan dat hy aan hulle gesê het dat hy nie kon asemhaal nie. Nowak is kort daarna oorlede.

Sedert die insident in Desember het verskeie aktiviste in Engeland, en selfs bekendes soos Elon Musk indringende vrae oor die Nowak-moord gevra. Dit is elke keer as regse propaganda, rassisme en ekstremisme afgemaak. Die Britse regering was vir maande tjoepstil oor die moord. Net so ook die Britse polisie en die meeste Britse media.

Intussen is Digwa verlede week aan moord skuldig bevind. Kamerabeelde wat deur ’n toestel wat die polisiebeamptes in Engeland moet dra, opgeneem is, bevestig die tragiese insident en die polisielede se blote aanvaarding van Digwa se rassismebewerings en die wyse waarop hulle Nowak se smeking vir hulp geïgnoreer het.

Die afgelope week het die Britse premier Keir Starmer die moord veroordeel en ’n omvattende ondersoek na die gedrag van die Britse polisiemanne is van stapel gestuur. Elke Britse mediahuis het ook skielik oor die insident begin berig – eers nadat die videomateraal bekend gestel is.

Allister Heath, redakteur van die Sunday Telegraph, skryf die afgelope week dat die stryd teen rassisme in Brittanje oor ʼn tydperk van 30 jaar in institusionele anti-wit rassisme oorgegaan het. “Dit het nie gegaan oor ‘oorkompensasie’ vir vorige onregte nie: dit het gegaan oor die vervanging van een vorm van rassisme deur ’n ander,” aldus Heath.

Wat die aand van 3 Desember in Southampton gebeur het, bevestig ’n natuurlike intuïsie by polisielede dat wanneer ’n nie-wit persoon by ’n misdaadtoneel ’n wit persoon van rassisme beskuldig, dit ’n onbestrede feit moet wees. Die bewering van rassisme, wat nooit tydens Digwa se hofsaak bewys kon word nie, was vir die polisie belangriker as enige beserings wat Nowak opgedoen het.

Wat met Nowak gebeur het, sluit natuurlik aan by die dood van George Floyd op 25 Mei 2020 in Minneapolis in die VSA. Die uiteenlopende hantering van die twee insidente maar veral die skerp kontras in die reaksie op die twee insidente deur politieke en ander leiers, die media en talle ander instellings, behoort ’n ernstige waarskuwing oor die dubbele standaarde in Westerse lande te wees.

Heath skryf in sy artikel dat Westerse samelewings vandag per definisie rassisties is, en as broeiplekke van magswanbalanse en uitbuiting gesien word, al is daar geen bewyse meer hiervoor nie. Jongmense word van kindsbeen af geprogrammeer om dit so te beskou. Ten spyte van talle ondersoeke wat bewys dat die voorkoms van rassisme ’n historiese laagtepunt in Westerse lande bereik het, word daar bloot aanvaar dat wit mense van nature rassiste is.

Nog erger egter is dat daar ook algemeen aanvaar word dat nie-wit minderhede, individueel, maar ook kollektief byna deurgaans deur die wit meerderheid (wat ook Jode insluit) onderdruk word. Foute deur wit mense is altyd rassisme. Bewerings van rassisme deur ander rasse is altyd waar. Dít is die algemene siening oor rassisme vandag in Westerse samelewings.

Op 25 Mei 2020 is die polisie in Minneapolis, Minnesota uitgeroep nadat ’n swart man George Floyd, vervalste geld by ’n winkel gebruik het. Vier polisielede het by die toneel opgedaag. Floyd was bekend aan hulle weens sy historiese lang misdaadrekord. Hy het ook bedwelm voorgekom en dit het later uitgekom dat Floyd ernstige gesondheidsprobleme weens ’n langdurige probleem met dwelms, gehad het.

’n Wit polisieman Derek Chauvin het Floyd op sy nek vasgedruk. Floyd is enkele minute later dood. Die dood van Floyd het tot reusebetogings regoor die VSA gelei. Miljarde dollars se skade is in Minneapolis en ander stede aangerig. Wêreldwyd is Floyd se dood veroordeel. Die Black Lives Matter-beweging is gebore en vir minstens twee tot drie jaar het politici, kunstenaars, studente, sportspanne en talle ander individue en groepe in die openbaar gekniel om Floyd se dood te berou.

Chauvin is skuldig bevind aan moord, ten spyte daarvan dat ’n nadoodse ondersoek bevind het dat Floyd dwelmmiddels in sy bloed gehad het en reeds hartprobleme ervaar het weens dwelmmisbruik. Floyd het oor ’n periode van meer as 20 jaar minstens 10 keer tronkstraf vir ’n wye reeks misdade uitgedien. Na sy dood is standbeelde vir hom opgerig en is hy tot ’n soort held verklaar. Sowat 27 miljoen dollar is deur die Amerikaanse regering aan sy familie uitbetaal. Chauvin se nie-wit vrou het hom verlaat en hy is tot ’n ewige rassis verklaar sonder enige bewyse van rassisme tot vandag toe of enige bewyse van ’n rassemotief in die insident wat tot Floyd se dood gelei het.

Nou ontstaan daar noodgedwonge die volgende vraag: Waar is die globale veroordeling vir Nowak se nood? Waar is die kniebuigings, openbare byeenkomste, minute van stilte, politieke toesprake, betogings en veroordeling van ‘polisiegeweld’?

Brendan O’Neill, hoof politieke skrywer vir die Britse aanlyn tydskrif Spiked skryf die afgelope week soos volg oor die dood van Nowak: “…hierdie gruwel spreek van ʼn dieper morele verrotting: Dit onthul die effek wat die ideologie van woke op die instellings van ons samelewing gehad het. Die rede waarom die polisie die messwaaiende monster geglo en sy sterwende slagoffer afgelag het, is eenvoudig: Die moordenaar was ʼn nie-wit man en sy slagoffer was ʼn wit man. Onder amptelike beleid moet polisiebeamptes elke beskuldiging van ʼn ‘haatmisdaad’ glo.”

Bewerings van wit rassisme is vandag soos ’n goue sleutel in die meeste Westerse samelewings. Die vraag is of enigiemand iets gaan leer uit die skynheilige kontras van die politieke elite, die media en woke-aktiviste in hulle reaksie op die dood van Floyd en Nowak. Moenie te veel verwag nie.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek- https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-69-05-11-Jun-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: The Mail and Guardian

Vissers langs die Weskus sê nee vir opnames

Fotokrediet: Netwerk24

Binnelandse sake vra burgers se hulp

Griekwastad-moordenaar 2

Griekwastad-moordenaar se parool herroep

PhalaPhala

Ramaphosa se Phala Phala-hersieningsaansoek in September aangehoor

Fotokrediet: CBC

Slegs 14% statutêre verkragters skuldig bevind

Ander Nuus Artikels

e-tol
E-tol-skuld sal afgeskryf word
Pretoria-hooggeregshof
SA wil wapenuitvoere na die VSA staak
Fotokrediet: The Mail and Guardian
Vissers langs die Weskus sê nee vir opnames
Fotokrediet: Netwerk24
Binnelandse sake vra burgers se hulp
Griekwastad-moordenaar 2
Griekwastad-moordenaar se parool herroep

Luister nou